MOSSELBAAI NUUS - 'n Man is dood in die Endlovini informele woongebied in KwaNonqaba gedurende die afgelope naweek.
Aybanga Ngatwani (24), is in die vroeë oggendure van Sondag 17 November dood aangetref by een van die vele kragpale waar krag deur 'n sambreelnetwerk getrek word.
Volgens inligting is 'n dooie hond ook naby die lyk gevind. Daar kon egter nog nie bevestig word of die man doodgeskok is en of hy moontlik aan ander oorsake of 'n misdaad dood is nie. 'n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood bevestig.
Die steel van krag deur onwettige elektrisiteitskoppelings vanaf kragbokse of kragpale, selfs lamppale is 'n groot kopseer vir kragverskaffers. In van die informele woongebiede van KwaNonqaba, is daar in die verlede verskeie kere opgetree teen die oortreders. Tydens optredes is onwettige elektrisiteitskoppelings verwyder, net om kort daarna weer dieselfde netwerk van drade aan te tref.
Volgens 'n senior kommunikasie- en bemarkingsbeampte van die Mosselbaai-munisipaliteit, Nickey le Roux, sal die gesondheids- en veiligheidsbeampte van die munisipaliteit ook 'n ondersoek gaan doen rondom die beweerde voorval in die Endlovini-woongebied.
'n Vier-en-twintigjarige man is vermoedelik dood as gevolg van 'n onwettige elektrisiteitskoppeling. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'