MOSSELBAAI NUUS - Nadat Dale Ronald Harmse gevonnis is vir 16 jaar effektiewe tronkstraf, is die ondersoekbeampte in hierdie bedrogsaak se goeie werk in die kollig geplaas.
Harmse is in hegtenis geneem na hy homself as 'n advokaat voorgedoen het en met 'n vervalste Hooggeregshofbevel 'n kind in Mosselbaai ontvoer het.
Hy is Desember 2020 deur sers Ruhan du Plooy in Krugersdorp gearresteer.
"Ek is trots op sers Ruhan du Plooy as kollega en ondersoekbeampte in my afdeling. Ek wil ook my dank uitspreek aan elke lid onder my bevel wat onder geweldige druk hul sake suksesvol ondersoek om skuldigbevindings te verkry," sê speurhoof Jackie Grundlingh van die Mosselbaai-speurtak.
Harmse het vyf jaar vir vervalsing, vyf jaar vir bedrog, drie jaar vir ontvoering, twee jaar vir oortreding van die Wet op regspraktisyns en een jaar vir ontsnapping in die landdroshof op Mosselbaai ontvang.
Die ontsnapping was uit die selle in George op 9 November 2021, maar Hamrse is dieselfde dag weer aangekeer. Hy is dus effektief vir 16 jaar gevonnis.
Harmse is ook vir 10 jaar in Erasmia gesoek op aanklagte van bedrog. Voor sy vonnis in Mosselbaai is hy in Oudtshoorn vir 15 jaar samelopend gevonnis waarvoor hy net 'n paar jaar sal sit.
Dit was onder andere vir bedrog, geldwassery en 'n sakeman wat Harmse uit R500 000 geswendel het.
"Ek is bly hy het die swaar vonnis in Mosselbaai gekry om die publiek te beskerm want hy sou net weer aangaan met sy oortredings," vertel Du Plooy aan die Mossel Bay Advertiser.
Volgens ao Pieter Koekemoer, woordvoerder van die Mosselbaai-polisie, was die vonnis hoofsaaklik vir bedrog in die Mosselbaai-area. Daar is ook 'n lasbrief vir Tobias Meyer van Krugersdorp uitgereik wat saam met Harmse in Mosselbaai was en wat wetend dié swendelaar gehelp het om 'n vervalste Hooggeregshofbevel in die Mosselbaai-landdroshof af te dwing.
Dale Ronald Harmse is tot 16 jaar tronkstraf in Mosselbaai gevonnis.
Vorige artikel: Man hou hom glo as advokaat voor
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'