MOSSELBAAI NUUS - Dale Ronald Harmse, die Gautengse man wat hom as 'n advokaat voorgedoen het, en 'n pa gehelp het om met vervalste hofdokumente toesig oor sy negejarige kind op Mosselbaai te kry, het die afgelope week weer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn vir 'n formele aansoek om borgtog.
Harmse staan tereg op ander aanklagte wat verband hou met 'n voorval waar hy 'n sakeman van Oudtshoorn uit bykans R500 000 geswendel het, asook bedrog- en vervalsingaanklagte wat verband hou met die voorval op Mosselbaai.
'n Speurder van die Mosselbaai-polisiestasie, sers Ruhan du Plooy is aangesê om die voorval te ondersoek. Dit, nadat die pa van die kind 'n vervalste hooggeregshofbevel bekom het, en die kind na bewering met Harmse se medewete by die skool gaan haal het, sonder om die ma in te lig.
Die pa het sy dogter na sy woning in Krugersdorp geneem, sonder dat die ma daarvan bewus was.
Die ma was onder die indruk dat haar kind by die skool is en het eers van die voorval uitgevind nadat die kind reeds deur die pa weggeneem is.
Sy moes 'n dringende hofbevel kry om haar dogter terug in haar sorg te plaas. Dit het 'n week en 'n half geduur.
Tydens die hofbevel het die hof beveel dat die voorval ondersoek moet word, omdat die hof snuf in die neus gekry het oor die sogenoemde "advokaat". Die hof het gelas dat die kind dadelik terug in die ma se sorg geplaas moet word.
Ten spyte daarvan dat Harmse verlede jaar tydens sy eerste verskyning gesê het dat hy skuldig wil pleit, homself gaan verteenwoordig en nie 'n prokureur wil hê nie, het hy intussen aangedui dat hy 'n prokureur, Riaan Pienaar, aangestel het en dat hy om borgtog wil aansoek doen.
Harmse se aansoek om borgtog het op 10 Februarie in die Mosselbaai-landdroshof begin. Die saak is uitgestel na 19 Februarie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'