MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit het 'n geotegniese kontultant aangestel om die gebied in die Wolwedans-woongebied by Groot-Brakrivier te ondersoek waar grondverskuiwings onlangs voorgekom het as gevolg van die swaar reën.
Volgens Cornelle Carstens, woordvoerder van die Mosselbaai-munisipaliteit, gaan hulle binne die volgende twee weke met 'n remediërende proses begin, sodra die nood-finansiële verkrygingsprosesse voltooi is.
Die konsultant, Zutari Consulting, het die volgende aanbevelings gedoen.
- Die konstruksie van 'n ondergrondse en bogrondse dreineringsisteem, wat stormwater wegvoer van die area waar die probleme telkens voorkom.
- Die konkrete blokmuur op erf 4066 moet gestabiliseer word en die grondoppervlak van die probleemarea opgevul en gekompakteer word.
- 'n Nuwe waterverskaffing-, stormwater en dreineringsnetwerk moet rondom die area aangebring word om grondwater te herlei en te verhoed dat dit deur die probleemarea loop en daar opdam.
- 'n Moniteringstelsel moet aangebring word om enige grondverskuiwings in die area so gou moontlik te identifiseer.
Voorgestelde langtermyn doelwitte:
- Geen verdere informele ontwikkeling in die probleemarea nie.
- Inheemse plante, bosse en struike kan aangeplant word vir langtermyn stabiliteit van die area. Daar word aanbeveel dat bome wat baie water verbruik soos bloekombome aangeplant word om die voginhoud van die grond konstant te verminder. Die boomwortels help ook om die grondwalle te versterk.
Die Mosselbaai-munisipaliteit is in gesprek met die provinsiale departement van menslike nedersettings vir die befondsing van die voorgestelde remediërende werke om die area vir inwoners te beveilig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’