MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van die protestoptrede waaronder Mosselbaai onlangs onderbuk gegaan het, wil die uitvoerende burgemeester, Raadsheer Harry Levendal, alle inwoners en rolspelers bedank vir hul samewerking. Veral vrywillige organisasies, soos die onderskeie buurtwagte moet vermeld word vir hul bydrae.
Raadsheer Levendal stel alle Mosselbaai-inwoners gerus dat die munisipaliteit alles in sy vermoë doen om soortgelyke situasies te voorkom. Hiervoor is deurlopende onderhandelings en betrokkenheid deur al die belangrike rolspelers en die geaffekteerde gemeenskappe uiters noodsaaklik.
Die Munisipaliteit het ten volle begrip en begryp die omvang en impak van die onlangse protesoptrede op inwoners, organisasies en besighede in die munisipale gebied.
Aslapark
Wat Aslapark betref, was daar voorvalle van geweld. Dit het veroorsaak dat Louis Fourie-weg twee dae lank gesluit was en die gemeenskap van Danabaai vasgekeer was. Om die protes te ontlont het ‘n munisipale afvaardiging onder leiding van raadsheer Levendal ‘n openbare vergadering op 24 Julie met die gemeenskap van Aslapark gehou. Die versoekskrif met eise van die gemeenskap is bespreek. Later dieselfde middag is daar met sowat 17 verteenwoordigers van die Aslapark-gemeenskap vergader om werkbare oplossings te probeer vind vir die aangeleenthede wat die gemeenskap grief.
Lys van griewe
Daar is ooreengekom dat daar ‘n opvolg gesprek sal plaasvind op 7 Augustus waartydens die munisipaliteit amptelik terugvoer sal gee aan die Aslapark-gemeenskap op elk van die griewe wat aan die Munisipaliteit gestel is.
Van die griewe waarvoor werkbare oplossings, in belang van die groter Mosselbaai, gevind moet word, sluit in:
- Die toekenning van grond aan persone wat nie grond besit nie
- Dat erf 2001 (die area waar die nuwe begraafplaas geleë is) gediens moet word vir die vestiging van informele nedersettings en agterplaasbewoners
- Dat water en krag nie afgesny word na diegene wat wel betaal nie
- Dat kragbokse wat verwyder was teruggeplaas moet word
- Dat die 2017-18 Geïntegreerde Ontwikkelingsplan-vergaderings (GOP) herskeduleer moet word en die normale kanale gevolg moet word om die gemeenskap daarvan in te lig
- Dat beurtkrag na formele huise langsaan informele nedersettings gestaak moet word
- Dat gratis eenhede krag en gratis water toegeken word sonder om eers krag aan te moet koop
- Dat lae-inkomste huishoudings en die wat staatstoelaes ontvang gratis munisipale dienste moet geniet
- Dat die betrokke gemeenskap krag direk vanaf Eskom aankoop
- Dat ondersteuning gebied word aan klein sakeondernemings
- Dat die taxibedryf ondersteun en betrek word by plaaslike ekonomiese ontwikkeling-beplanning
- Dat die werkloosheidsyfer verminder en Wyk 3 betrek word by beplanning
- Dat die hoë syfer dwelmverbruikers in die wyk ondersetun word met jeugprogramme
- Dat die oprigtingsproses van die Aslapark-taxistaanplek ondersoek word.
Die gemeenskap het die volgende dag weer by die KwaNonqaba-polisiekantoor saamgetrek. Met onmiddellike ingryping en onderhandelings is die situasie ontlont en die skare is vreedsaam uiteen. Die situasie word nou deurlopend gemonitor.
Danabaai
Veral Danabaai is deur die protesoptrede geaffekteer deurdat hulle toegangsroete gesluit moes word. Dit het groot ontwrigting vir die hele gemeenskap veroorsaak. Die amptenary ondersoek die moontlikheid van ‘n toegansgroete vanaf die N2 en sal meer volledig hierop terugrapporteer wanneer meer inligting beskikbaar is.
Die provinsiale regering is reeds op politieke vlak ingelig van hierdie uitdaging wat dringende aandag moet geniet.
Brandwag
Proteste het terselfdertyd in die Brandwag-omgewing begin en die pad na Oudtshoorn was ook gesluit. Burgemeester Levendal en sy delegasie het die gemeenskap van Brandwag toegespreek om die situasie te bedaar, maar dit het nie goed afgeloop nie en die polisie moes tussenbeide tree. Die situasie het sedertdien bedaar.
Groot-Brakrivier
Die staking deur die werkers van die Bolton-skoenfabriek word deurlopend deur die plaaslike polisie op Groot-Brakrivier gemonitor.
Gebiedsveiligheidsplan
Die konsep-veiligheidsplan vir die Mosselbaai munisipale gebied is deur die raad aanvaar en moet nou met die rolspelers gekonsulteer word. Die forum om die konsep te bespreek sal in Augustus vergader.
Lees vorige artikels hier:
- R328 reopened following protest action
- Burgemeester in Brandwag
- Update: Meeting with protesters
- Mayor addresses protesters
- Latest protest update
- Protest update
- Update on unrest
- Update: Protest turns violent
- N2 open in both directions
- Update: Councillors to meet with protest leaders
- N2 weer gesluit
- Update: Protest in Asla Park
- Update: Situation volatile in Asla Park
- Update on unrest
- Alle paaie in Mosselbaai weer oop
- Louis Fourieweg gesluit
- Protesaksie: Mosselbaai-paaie weer oop
- Protest action flares up
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'