Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vir enigiemand wat iets weet van hoe die byekoninkryk werk, sal dit net gepas wees dat 'n vrou die mees onlangse suksesvolle tenderaar vir byeverwydering in die Mosselbaai munisipale gebied is.
Dié kontrak word vir 'n jaar aan 'n suksesvolle tenderaar toegeken en vanjaar is dit die eerste keer in Jacqueline Stimie se bekwame hande geplaas.
Jacqueline woon in Danabaai en is, te oordeel aan foto's van byverwyderings waarby sy betrokke was, sommer 'n bobaasbyevanger. Of sy nou in 'n gat moet kruip agter bye aan of hulle met 'n hyskraan etlike meter bo die grond in 'n huis se dak moet werk, 'n bang haar het sy duidelik nie op haar kop nie.
Sy vertel dat sy haar liefde vir bye by haar pa geleer het. Twee jaar gelede het sy egter self begin bye uithaal.
Fotogalery: 'Koninginby' Jacqueline Stimie
"Mense het my gekontak om met bye te help en so het ek begin swerms vang." Toe die munisipale kontrak op tender kom, het sy die moed van haar oortuiging gevolg en die uiteinde was sukses.
Kyk 'n video hieronder:
Haar byekaste is 'n unieke pienk geverf en doelgemaak deur 'n deskundige wat haar help touwys maak het. Sy gebruik 'n spesiale stofsuier wanneer nodig, om bye te verwyder.
"Die belangrikste is om by die koninging uit te kom. As sy skuif, dan loop die bye letterlik soos beeste in 'n ry agter haar aan."
Haar kontrak behels dat alle bye wat hulle intrek in munisipale eiendom maak, deur haar verwyder word. Die koste word deur die munisipaliteit gedek. Sou daar 'n behoefte aan haar dienste deur lede van die publiek wat privaat eiendom besit wees, is haar rekening vir hulle sak.
"As mense bye gewaar wat verwyder moet word, kontak hulle die munisipaliteit wat die oproep na die brandweer verwys. Dan bel die brandweer my," verduidelik sy.
Jacqueline rig 'n vurige pleidooi aan die publiek om nie bye te vergiftig nie.
"Ons het al 'n paar scenarios gehad waar mense bye vergiftig. Soms wil mense eiendom verhuur en nie die proses volg om die bye veilig te verwyder nie. Hulle word dan bloot met 'n Doom Fogger doodgemaak."
Jacqueline sê dat dit uiters noodsaaklik is vir die publiek om te besef hoe essensieel bye in die vestiging van voedselsekuriteit is.
"As ons nie bye het nie, gaan ons nie kos hê nie. Sonder hulle kan geen bestuiwing plaasvind en dus geen kos geproduseer word nie."
Sy lê mense se vrees vir bye voor die deur van algemene onkunde oor dié fassinerende insekte. Haar missie is om ongewenste bye in 'n veilige nuwe omgewing te vestig.
Jacqueline Stimie. Foto: Jannie du Plessis
Jacqueline Stimie in haar bye pak besig om bye te verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'