MOSSELBAAI NUUS - Curro Mosselbaai se nuwe uitvoerende hoof is reeds die afgelope jaar en 'n half fasehoof van die skool se sekondêre fase.
Jaco Olivier is 'n Wes-Kapenaar en het gematrikuleer aan Hoër Jongenskool in die Paarl. Hy studeer BSc aan die Universiteit Stellenbosch en hou skool by hoërskole in die Kaapstad-omgewing, waarvan hy ses jaar by Curro Durbanville was.
Hier het hy ook op die skool se bestuurspan gedien. Hierna het hy vir vier jaar uit die onderwys getree, maar, verduidelik hy: "Ek is 'n mensemens. Ek moet mense kan inspireer." Daarom is hy nou by Curro Mosselbaai.
Jaco het twee seuns, onderskeidelik 3 en 6 jaar oud, beide in Curro en sy vrou, Elzaan, werksaam in finansiële bestuur is deel van die skool se oueradvieskomitee.
As iemand wie se wortels in die platteland lê, sê Jaco is gemeenskapsbetrokkenheid vir hom baie belangrik. Hy sê dat hy graag wil voortbou op die stabiliteit wat by die skool gevestig is.
"By Curro Mosselbaai wil ons graag bly fokus op uitstekende akademie, leierskapsontwikkeling, asook die vestiging van goeie morele waardes en aanspreeklikheid. Die holistiese ontwikkeling van elke kind is kernbelangrik."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'