VLEESBAAI NUUS - Hulle het sy ma altyd uitgevra oor dié sylappie, vertel Leon van Rensburg, bekende operateur op die Draakduin by Vleesbaai.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se gesprek met dié einste ma, Hazel, blyk dit asof sy en haar susters presies dieselfde gedoen het met húlle pa - 'n deurwinterde veteraan uit die Tweede Wêreldoorlog.
James Jacob (JJ) Sutton, Hazel se pa was die hele Europa deur tydens die Tweede Wêreldoorlog en het soos alle Suid-Afrikaanse soldate destyds, die Britse kroon verdedig.
"Ons meisiekinders was baie nuuskierig. Ons het altyd in my pa se goed en sy blikkies gekrap en vrae gevra." Antwoorde op alles, het hulle egter nie altyd gekry nie. Hazel vertel dat haar pa nie sommer oor sy wedervaringe tydens die oorlog gepraat het nie, maar sy weet dat hy briewe van die Britste koningshuis ontvang het om hom te bedank vir sy troue diens. Een van haar broers wat wel hulle pa se medaljes uiteindelik bekom het, het dit aan 'n museum in Port Elizabeth, waar die gesin destyds gebly het, geskenk.
Maar die sakdoek, dié wou Hazel hê. En haar pa het gehoor aan haar wens gegee.
Die storie van die sakdoek?
Sy weet nie presies waar haar pa oral geveg het nie, maar tydens 'n bombardement het 'n vriend van hom, swaar gewond in die loopgraaf (vermoedelik in Italië), langs haar pa gesterf. Sy sterwenswoorde was glo dat die sakdoek in sy baadjie aan sy vrou in Suid-Afrika teruggeneem moes word.
Ná die oorlog, terug in Suid-Afrika het JJ Sutton werk gemaak van sy gevalle vriend se wens. "Daar is advertensies in die koerant van daardie tyd geplaas om die naasbestaandes op te spoor, maar dit was onsuksesvol. Daar is gebid oor die sakdoekie, maar tevergeefs. Die man se vrou is nooit opgespoor nie."
Hazel beken dat dit haar pa baie gepla het dat hy nooit sy vriend se sterwenswens kon vervul nie.
En aan wie gaan die kosbare sakdoekie volgende geskenk word?
"Een van my kleinseuns is baie sentimenteel. Hy is 'n regte versamelaar. Ek dink hy kan dit kry."
'Ons bring jou die nuutste Vleesbaai, Tuinroete nuus'