MOSSELBAAI NUUS - The Haven-organisasie se hoofkantoor is in Kaapstad en Mosselbaai se nagskuiling is een van 14 in die Wes-Kaap wat oorhoofs deur hulle bestuur word.
The Haven is nie ‘n permanente woning nie, maar ’n deurgang na ’n beter lewe.
Die doel is rehabilitasie en hereniging van hulle kliënte met familie.
‘n Belangrike deel van The Haven se taak is om mense met gebroke lewens te begelei op die pad van heling en herstel, tot die punt waar hulle met hulle familie herenig kan word of selfstandig kan funksioneer buite die skuiling.
As ‘n reël word vir elke persoon ’n individuele exit plan uitgewerk. Dit geskied saam met verskeie rolspelers en daar word gepoog om persone binne ses maande weer te verenig met familie en die gemeenskap.
Dissipline
"Ons kliënte kom meestal uit baie moeilike omstandighede. Alkholisme en verslawing aan chemise middels is ongelukkig aan die orde van die dag," sê Piet Maree, bestuurder van die nagskuiling wat die dissipline wat toegepas word betref.
"Dit noodsaak streng dissipline en reëls wat vir baie van die straatmense nie aanvaarbaar is nie. Hulle verkies die 'sorglose' bestaan van ’n ongedisiplineerde lewenswyse. Persone wat hulle skuldig maak aan wangedrag en wat reeds ‘n onaanvaarbare rekord opgebou het, word uitgesit of nie toegelaat om weer in te kom nie. Ongelukkig gebeur dit dan dat van hierdie kliënte dikwels kwaad praat oor die skuiling en die persepsie versprei dat dit ‘n ongenaakbare plek is.
"Ongelukkig glo sommige lede van die publiek hulle. Om uitsettings egter tot die minimum te beperk, word gepoog om ‘n nuwe aankomelinge so ver as moontlik te skandeer voordat hulle opgeneem word."
Skenkings aan The Haven tydens die Covid-19-inperking verlede jaar.
Herintegrasie
Die laaste ses maande van 2020 het die syfers as gevolg van Covid-19 baie beduidend beïnvloed. Ten spyte daarvan is 30 suksesvolle familie-herintegrerings bewerkstellig. Boonop is 55 gestabiliseerde herintegrasies bewerkstellig van inwoners wie werk het en alternatiewe akkomodasie kon bekom.
Skenkings tydens die Covid-19-inperking verlede jaar.
Ondersteuning
Volgens Maree, geniet The Haven wonderlike ondersteuning vanuit die gemeenskap. Benewens individue, kerke en ander instellings wat bydra, gebeur dit gereeld dat besighede The Haven verras met bydraes.
"So kon ons byvoorbeeld verlede jaar, danksy die insette van ‘n paar jongmense, ‘n wonderlike Kersmaal vir die inwoners aanbied. Tydens die hoogtepunt van die Covid-19-inperking is daar ook ekstra kospakkies gegee toe talle nuwe innames as ‘n noodmaatreël gedoen is.
"Met die donasies wat ingestroom het, kon ons selfs honger gesinne in die gemeenskap en van die straatbewoners van kospakkies voorsien. Hiervoor is ons die mense van Mosselbaai innig dankbaar," sê Maree.
Nagereg tydens die Kersmaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'