RUBRIEK - Gestreurd tel ek my slimfoon op toe dit buitenstyd, wat deesdae die norm blyk te wees, aandui dat daar vir die soveelste keer 'n WhatsApp-boodskap ontvang is. Deesdae, is ek so boodskapvoos, dat ek die foon bejeen met 'n sal-ek-sal-ek-nie-houding.
My argwaan ten spyt volg ek maar, soos deesdae die norm is, die weg van die minste weerstand.
Dis 'n foto van 'n bord met romerige pasta en langs die bord, 'n flessie mosterd. Sonder die bril herken ek die logo nie. Tot my groot verbasing, een van my eie konkoksies so 'n jaar of wat gelede toe ek reken my kulinêre vaardighede kan die befaamde Ina Paarman s'n troef – tuisgemaakte etiket en al. Daar het egter dadels van gekom.
"Jou mosterd is alles behalwe na die maal in 'n droë Karoo vanaand. Stuur tog weer?" So lanklaas had ons kontak, dat ek die vriendin se jongste profielfoto kwalik eien, maar tog te in my skik met die onverwagte kompliment, gesels ek terug. Dit word 'n uitruil van kopkiekies van ons laaste kuier en die pakkie met lekkernye wat ek vir haar agtergelaat het.
Die volgende dag, kom daar te midde 'n storm van dringende werksopdragte, nog 'n lukrake WhatsApp-boodskap. Die keer 'n foto van 'n stuk kaas, brood, salami en 'n klomp hande wat blyk te gryp na 'n potjie met rooi goed in.
Pakkies
"Die laaste van jou tamatieblatjang. Dit veroorsaak huismoles in 'n vreedsame Switserland." Skielik het ek rede om 'n frons vir 'n glimlag te verruil, gedagtig aan die vriendin wat aansukkel vliegtuig toe met 'n pakkie vol Suid-Afrikaanse gunstelinge om die soms oorweldigende gevoel van ontheming in Europa te troef.
Die saamstel, stuur en uitruil van pakkies is 'n betekenisryke taal sonder dat 'n woord noodwendig gerep hoef te word. Dit kan jou die leënessindroom help oorleef. Toe ek met 'n skoolverlater sit, was my eerste breekwater teen die verdriet om elke moontlike stel wiele wat Stellenbosch toe ry, te probeer identifiseer. Pakkies is met groot sorg saamgestel en soms is die geleentheid se verbykom al voordag langs die pad ingewag.
"Stuur tog net kos…o, en my skoene vir die huisdans…" laat weet die "sterwende" student. Dit neem drie dae om die inkopielysie af te handel. Toe volg die meet, pas, verstewiging en merk van die bokse. Tegnologies gestremd neem dit my nog 'n dag om die Pudo-toep en -masjien te verstaan, maar aanhouer (en verlangende moeder) wen en daar gaat die bokse vol betekenis darem oplaas.
"Moeder…" kom die boodskap 'n week later en toe weet ek – iets skort. "Moeder die pakkie is teruggestuur depot toe. Ek kon dit nie betyds gaan haal nie…te besig."
As 'n mens jou sonde nie ontsien nie! Die boodskap kom toevallig toe daar juis weer bekende wiele op pad is Stellies toe. Met 'n vinnige uitruil van spoornommers, is die pakkie een, twee, drie by die depot opgelaai en per hand tot by die "sterwende" student geneem.
"EEEEEPIES…die pakkie is EEEEPIES," kom die middernagtelike boodskap, soos net studente hulle kan stuur.
Wêreldwyd word die koerierdienstemark gereken om by 'n verstommende $658.3 miljard in 2031 te gaan draai. Want dit gaan nie oor 'n tekort aan lekkernye en dies meer te koop nie. Dit gaan oor iets van onskatbare waarde. Want 'n pakkie, praat maar net 'n ander taal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’