Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om jou hele lewe te wy aan jou kind is 'n bewys van onbaatsugtige liefde vir jou kind. Elke ouer het 'n verpligting om na sy/haar kinders te kyk maar vir 'n plaaslike vrou is dit 'n 24-uur toewyding aan haar kind wat moederliefde tot 'n hoër hoogte bring.
Marili van Reenen het dit nie maklik gehad nie. Dit het 13 jaar gelede begin toe haar eerste kind, Antoni in 'n baie bekende hospitaal in die Kaap gebore is.
Op 39 weke is sy aangesê om nog 'n week te wag aangesien sy nog nie ontsluit het nie. Antoni is toe met 'n noodkeiser in die lewe gebring en die dokter het gesê dat hy reeds in die baarmoeder nie genoeg suurstof gekry het nie en dat hy breinskade opgedoen het.
Na geboorte het hy vog op die longe gehad en hulle het 'n inkubasie gedoen waarna die longe ook platgeval het en 'n verdere suurstoftekort veroorsaak het. Hy is die volgende oggend na 'n staatshospitaal oorgeplaas waar hulle 'n trageostomie in die lugpyp gedoen het. Met die suurstoftekort is hy ook serebraal gestremd.
Met gereelde besoeke is gevind dat omrede inkubasie talle kere gedoen moes word, sy lugweg beskadig is en dat die vog gereeld in sy longe opbou.
Op tweejarige ouderdom het hy epileptiese aanvalle begin kry.
Volgens Marili het dit al hoe erger begin word soos wat hy ouer geword het. Gewoonlik was die aanvalle net in die nag gewees maar dit het vermeerder tot soveel as ses keer per dag.
Moeilik vir gesinslede
"Dit het moeilik geraak vir die gesinslede. Sy agtjarige sussie Lea moes dit telkens aanskou en baie keer as ons gaste het of as 'n maatjie hier kuier, dan beleef hulle dit ook," vertel sy.
"My man Mauritz werk vir homself en as enigste broodwinner slaap hy in 'n ander kamer aangesien ek deur die nag moet opstaan en hy moet rus. Antoni het ook agtergekom dat hy die trageo kan uittrek. Dan moet die vog ook gereeld uitgepomp word."
Op 13-jarige ouderdom weeg die bondeltjie liefde van haar net 20kg. Met die nodige vervoer en rystoele in plek moet Antoni orals saamgeneem word en permanent dopgehou word.
Soms is dit maar moeilik en sy moet ook nog aandag en tyd aan Lea met haar huiswerk en ander aktiwiteite gee.
"Hier in Mosselbaai voel 'n mens soms eensaam. In die Kaap was ons 'n groot groep mammas met kinders met trageos," vertel sy.
"Ons het 'n nie-winsgewende organisasie gestig (APP=23/423980) met die doel om mense bewus te maak van die omstandighede en om meer mense te kan help veral as 'n mens kyk na die kostes wat daaraan verbonde is."
"Die goed wat die mense sê, hoe hulle ons aanstaar en die opmerkings maak 'n mens regtig seer," sê sy.
"Met Lea se sportwedstryde by die skool maak die kinders soms opmerkings en die ouers lig hulle nie in oor die situasie nie."
Daar is baie ander groepe wat fokus op byvoorbeeld ADHD, outisme en ander probleme maar daar is nie groepe vir kinders met permanente trageos nie. Vandat die nie-winsgewende organisasie gestig is, het sy al twee mammas ontmoet met dieselfde probleem.
"Baie sê vir jou om die kind in 'n inrigting te sit. Hy kan nie praat nie maar hy is steeds 'n mensie. Hy het reaksies en gevoelens. Mense kyk net weg maar as jy vir hom 'Hallo Antonie sê,' sal hy mooi vir jou glimlag," vertel sy.
Mense met navrae kan Marili kontak. (078 782 6924).
VIDEO - 'n Moeder se liefde vir haar kind (Video: Jannie du Plessis).
Sussie Lea by haar boetie vir wie sy baie lief is.
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'