Video
GROOT BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Met die Covid-19-pandemie en skole wat weer gesluit is, is honger magies 'n groot bekommernis onder plaaslike gemeenskappe.
In die Wolwedans-woongebied net buite Groot-Brakrivier is verskeie projekte aan die gang om voedselnood te verlig.
Een daarvan word deur Lena du Plessis hanteer. Lena sê sy is reeds van die begin van die nasionale inperking besig om kinders in die omgewing daagliks van 'n koppie sop te voorsien.
Aanvanklik het alles uit haar eie sak gekom, maar die aantal kinders het by die dag vermeerder. Danksy verskeie individue kan sy steeds elke dag vir die kinders, en deesdae ook volwassenes, 'n koppie sop gee. Sy sê Sondae daag daar tot 350 kinders en volwassenes op. Haar vriendin Katrien Williams, wat self ook 'n sopkombuis gehad het, het besluit om Lena se hand te sterk en die twee werk nou saam.
Kyk 'n video hieronder:
Daar is egter daagliks behoefte aan sopgroente. Die vroue versoek die gemeenskap en boere om met skenkings te help sodat hulle met noodverligtingswerk kan voortgaan.
Hierdie twee weldoeners van Wolwedans, Katrien Williams en Lena du Plessis voorsien daagliks tot 350 mense van 'n koppie sop. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'