MOSSELBAAI NUUS - Winston Booysen, 'n 38-jarige inwoner van Mosselbaai wat op 'n vissersboot werksaam was, is na bewering onlangs deur 'n kollega wat saam met hom op die betrokke boot werksaam was, met 'n mes doodgesteek.
Volgens die Suid-Kaap-polisiewoord-voerder, kapt Malcolm Pojie het die voorval op 12 Januarie in die hawe in Port Elizabeth plaasgevind.
'n Agt-en-twintigjarige man is in die hawe vir die moord op Booysen in hegtenis geneem. Pojie sê die polisie is na die toneel ontbied.
"Booysen en die verdagte, 'n mnr Saayman het saam op die boot gewerk. 'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat hulle in 'n argument betrokke was waarna Saayman glo die oorledene met 'n mes in die nek en bors gesteek het."
Volgens Pojie is Booysen op die toneel dood verklaar. Die polisie het op die moordwapen beslag gelê.
Saayman sal in 'n hof in Port Elizabeth verhoor word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'