Die WCOPA staan algemeen bekend as die Olimpiese Spele van die uitvoerende kunste. Vanjaar het 58 lande geregistreer om deel te neem aan WCOPA 2014. Volgens Idalette Campbell, Anje se ma en direkteur van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in die Suid-Kaap, wat die kompetisie bygewoon het, het die Amerikaners veral uitgeblink in die hip hop-afdeling. Die Fillipyne, Brittanje en Kanada het die toon aangegee in die sangafdeling. In die drama-afdeling het Ierland, Brittanje, Amerika, Frankryk en Duitsland weer sterk meegeding.
Ses beoordelaars het opgetree in die onderskeie afdelings, maar met die finale beoordeling is dit verduddel na 12. Volgens Idalette is die kompetisie besonder straf en word medaljes slegs toegeken aan die top drie in elke afdeling, mits die punte goed genoeg is. Indien dit nie die geval is nie, word medaljes eenvoudig nie toegeken nie.
Klariska het silwer vir klopdans en 'n brons medalje in onderskeidelik hip hop- en kontemporêre dans, asook 'n industriële toekenning verkry. Hierdie prestasie het haar outomaties 'n oudisie in hip hop-dans besorg vir die America's Got Talent-kompetisie.
Anje het op haar beurt brons ontvang vir haar vertolking van Alan Jackson se Little Bitty en 'n brons vir African Dream van Vicky Sampson. Sy het ook 'n onderhoud met die New York Conservatory for Dramatic Arts School of Film and Television gehad.
In totaal het die Suid-Afrikaanse span van 82, gelei deur dr Ellen Roux van Beyond2000, met die volgende toekennings huis toe gekom: 53 goue, 61 silwer, 46 brons medaljes, 26 algehele wenner-trofees, 16 industriële toekennings, 7 skouspelmedaljes en 10 beurse wat toegeken is.
Vir beide jong kunstenaars was 'n hoogtepunt die 'boot camp'-afrigtingsessies wat deur kenners aangebied is. Die sangafrigting is behartig deur Bob Garrett, stem-en-tegniek-afrigter, vervaardiger en Broadway-spesialis. Garrett het onder meer gewerk met kunstenaars soos Katy Perry en Vanessa Hudgens en is betrokke by American Idol.
Dansklasse is aangebied onder leiding van Kenya Clay van Millenium Dance, wat choreografeer vir bekendes soos Black Eyed Peas, MC Hammer en dies meer.
Nog hoogtepunte was die geleentheid om die Hollywood Walk of Fame, Disneyland en Universal Studios te besoek, waar 'n kykie gekry is agter die skerms van films en televisiereekse en die vervaardiging daarvan.
WCOPA 2015 vind plaas in Long Beach, Kalifornië.

Die Suid-Afrikaanse span voor die Dolby Teater in Hollywood, met die befaamde Walk of Fame en die Hollywood-teken in die agtergrond. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'