MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-posduifklub se duiweboere het die afgelope naweek weer puik presteer, nie net op klubgebied nie maar ook binne die Eden Federasie.
Die duiwe is Saterdagoggend, 3 September om 07:00 in twee groepe - Ope 1 en Ope 2 - in mooi weer op Groblershoop (585km) losgelaat.
Sewe uur en vyftien minute later klok Chappie Gertenbach (Chapmar) die eerste Mosselbaai-duif in die Ope 2-wedvlug en vier minute later klok Fanie Mollentze die eerste Mosselbaai-duif in die Ope 1-wedvlug.
Chappie palm ook die eerste plek in die Ope 2 van die Federasie in en Fanie die tweede plek in die Ope 1.
In die Mosselbaai-klub se Ope 1 behaal Wikus en Amanda Pretorius (Anouk) die tweede plek, Danie Barnard derde, Gert Wessels vierde en Fanie weer 'n vyfde plek.
Essie Esterhuizen (AJE Lofts) behaal die tweede plek in die Mosselbaai-klub se Ope 2, met Fanie weer derde, Gert Wessels vierde en Danie vyfde.
Juniors
In die junior-afdeling is dit JW Schutte wat eerste in die Ope 1 van beide die Mosselbaai-klub en die Eden Federasie klok. Carel Grové klok eerste in die Ope 2 van die Mosselbaai -klub en behaal 'n vierde plek in die Federasie met hierdie duifie van hom.
Tashinga Kadye behaal die tweede tot vierde plekke in die Ope 1 van die klub met Logan Boshoff in die vyfde plek. In die Ope 2 klok Zante Strydom tweede en vierde, Tashinga derde en Carel weer vyfde.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'