Gallery
MOSSEL BAY NEWS - "Daar is vanjaar 'n spesiale bonus, 'n kontantprys op die spel vir die wenners van die tweede Mayoral Rural Cup," het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal gesê toe hy die tweede Mayoral Rural Cup vanoggend luisterryk geopen het.
Vanjaar word die byeenkoms op Brandwag aangebied.
Tydens verlede jaar se byeenkoms het Happy Hearts van Brandwag die Rugby Sewestoernooi gewen en het Groot Brakrivier met die louere weggeloop in die netbalkompetisie.
Vanjaar kompeteer 11 spanne, onder meer die verdedigende kampioene Happy Hearts van Brandwag; Proteas van Ruiteros; Black Warriors van Herbertsdale; Shamrocks van Buisplaas; Thistles van Friemersheim; Sunshine Warriors van Sonskynvallei; Titans en Young Dreams van Mosselbaai; Omgee Rehab van Uitbreiding 6; Kwa Netball van KwaNonqaba en Mustangs van Asla/D'Almeida.
Burgemeester Levendal sê sy oogmerk met die Mayoral Rural Cup is om aan atlete van die landelikge gemeenskappe die geleentheid te gee om aan die Mosselbaai Sport en Rekreasiefees deel te neem.
"Vanjaar moet julle onthou dat julle op en van die veld die dorp waar julle vandaan kom, verteenwoordig. Speel om jou dorpsmense trots te maak. Speel vir jou eie selftrots. Speel sodat jy eendag op hierdie geleentheid kan terugdink en besef dat dit dalk die eerste stappie tot 'n groter sportloopbaan was," aldus Alderman Levendal.
Die Burgemeerster het bekendgemaak dat die Mayoral Rural Cup 'n vaste item op die Sport en Rekreasiefeesprogram sal bly.
"Die Mayoral Rural Cup is hier om te bly. Die byeenkoms bied landelike gemeenskappe se jeug die kans om bo hul omstandighede uit te styg. Die positiewe gees van die kompetisie is juis omdat op gelyke vlak meegeding word tussen spelers wat vanuit dieselfde gemeenskappe afkomstig is."
Die direkteur, gemeenskapsdienste, Elize Nel en burgemeester Levendal het die borge, die Garden Route Casino Community Trust; Nedbank; Nestlé; en Vodacom vir hul bydraes bedank.
"Sonder jul ruim borgskappe sou daar nie 'n Mayoral Rural Cup gewees het nie. Julle bydraes het geleenthede vir jong mense geskep om met trots hul passie vir sport uit te leef, en vir gemeenskappe om hul jongmense in hierdie byeenkoms se kompetisies te ondersteun," aldus Nel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'