MOSSELBAAI NUUS - Ná 'n hewige reaksie vanuit die gemeenskap op 'n video waarin twee seuns by 'n besigheidsperseel skade aangerig het, het die jong manne na vore gekom.
Die Da Gamaskop Gemeenskapspolisiëringforum (GPF) het op sy Facebook-blad gesê hy het onderneem om betrokke te wees by die aangeleentheid.
Na wat verneem word is 'n vergadering tussen die seuns en besigheidseienaars gehou. Die seuns het in 'n verklaring die volgende verskoning aangebied:
"Aan die gemeenskap van Mosselbaai en besighede wil ons werklik jammer sê vir die skade wat ons aangerig het asook die teleurstelling wat ons ouers moes deurgaan. Ons het vandag die betrokke besighede besoek en neem volle verantwoordlikheid vir ons dade en berou dit grootliks."
Lian Fourie, die organiseerder van Matriekbaai, het benadruk dat dié geval buite hul feesterreine was, waar daar geen insidente was nie.
"Ons doen soveel as moontlik van ons kant en vat hande met die buurtwagte en taxi's as die matrieks by ons hekke uitstap.
"Maar, op die ou einde, sodra iemand in die straat in gaan wat 18+ is, dan is sy optrede 100% sy eie verantwoordelikheid en daai persoon sal die nagevolge daarvan moet dra.
"Hulle het self na vore gekom en jammer gesê - vir ons en die besighede in persoon. Hulle moes ook uit hul eie sakgeld betaal vir die skade en hulle kom glad nie van 'n sterk finansiële agtergrond nie.
"Ons wens is dat mense kan fokus op die duisende positiewe kommentaar teenoor 'n paar slegte gevalle soos die."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’