MOSSELBAAI NUUS - Die eerste Matriekbaai in Mosselbaai wat deur bykans 2 000 jongmense bygewoon is, laat 'n nalatenskap in die omgewing vir die volgende generasie matrieks agter.
'n Totaal van 2 000 waterbessiebome is deur die Matriekbaai-organiseerders geskenk om in die komende maande in die Mosselbaai omgewing uit te plant.
Die eerste paar bome is Donderdag, 8 Desember in Sonskynvallei net buite Hartenbos geplant. Die Mosselbaai-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsontwikkeling, Elize Nel sê dis 'n gepaste inisiatief van die matrieks om iets terug te gee aan die dorp.
Sonskynvallei is die gepaste plek om die eerste bome te ontvang, omdat dit naby die Hartenbos-kuierplekke geleë is waar baie van die Matriekbaai-feestelikhede plaasgevind het.
Volgens Jan Odendaal, eienaar van Green for Life, is dit hulle doelwit om die hele Suid-Afrika te verboom. Die idee agter die Matriekbaai-boomplantgeleentheid is om jongmense te inspireer om meer bome te plant en die boodskap terug te neem na hul skole en gemeenskappe dat as ons ver reis en lekker kuier ons 'n koolstofspoor nalaat wat deur die plant van bome teengewerk word. "Ons het so drie jaar gelede met die Mosselbaai-munisipaliteit begin gesels en ons visie is om Mosselbaai die boomrykste stad by die see in Afrika te maak."
Odendaal sê verder: "Vir my as oud-Mosselbaaier wat my hele lewe lank by Die Punt branders gery het, is dit 'n wonderlike voorreg om te kan teruggee aan die dorp. Daar is op die waterbessieboom besluit omdat dit 'n geharde boom is en ook 'n vrug dra waarvoor voëls baie lief is."
Jan Odendaal van Green for Life verduidelik hulle missie om die hele Suid-Afrika te verboom.
Raadslede en werkers van die Mosselbaai-munisipaliteit, Matriekbaai-leerders en Green for Life-verteenwoordigers by die boomplantseremonie in Sonskynvallei.
Munisipale-werkers plant 'n paar bome as deel van die 2 000 waterbessies wat deur die Matriekbaai-organiseerders namens die matrieks geskenk is, om in Mosselbaai te plant.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'