Update
MOSSELBAAI NUUS - Konstabel Marvin van der Vendt was 'n kunssinnige liefdevolle mens met 'n sagte siel. Só vertel sy niggie, Bernelee Botha van Friemersheim.
Van der Vendt, 'n lid van die KwaNonqaba-polisie die afgelope ses jaar, se dood verlede week op 7 Julie, was ook vir sy kollegas 'n groot skok.
Hy is deur kollegas in die polisiebarakke op Groot-Brakrivier gevind waar hy ten tye van sy dood gewoon het. Van der Vendt het vanweë selfdood gesterf. Volgens inligting, het 'n familielid kort voor sy dood met hom gesels en was bekommerd oor sy emosionele welstand.
Botha vertel dat familie en vriende besonder baie vir hom beteken het. "Hy was baie kunstig, maar het dit nie altyd gewys nie," beskryf 'n kollega hom. "Hy het my so baie ondersteun, veral na my operasie het hy by my kom sit en flieks kyk. Hy was soos 'n broer vir my."
Botha, self 'n knap kunstenaar en bekend vir haar potloodsketse, het vandeesweek foto's op sosiale media gedeel waar haar neef besig is om Nelson Mandela se gesig uit sand te vorm. Die foto is glo twee jaar gelede tydens 'n tuinboukompetisie geneem."
"Iemand het gedurende die week vir my die foto's gestuur." Ironies genoeg word 'n troosdiens vir Van der Vendt môre, 18 Julie op Mandeladag gehou. Dit is om 10:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk, Groot-Brakrivier.
'n Vertroueling wat hom sedert sy kinder-jare ken, Natalie Syfers, sê dat daar net een Marvin was. "Daar was net één Marvin. Hy was die mees toegewyde, liefste mens wat jy kon kry. Ons hoef nie aan ander te verduidelik wat gebeur het nie. Ons aanvaar en verstaan, al sal ons hom baie mis."
Vorige artikel: Shock over death of policeman
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'