Update
MOSSELBAAI NUUS - Die man wat op Dinsdag, 6 Desember tydens 'n poging tot roof by die Engen-vulstasie op die N2 naby Danabaai geskiet is, was in alle waarskynlikheid op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.
Volgens die polisie se kommunikasie-beampte, ao Kappie Kapp het nege gewapende mans om ongeveer 13:50 eers die vulstasie probeer beroof en kort daarna ook 'n transito-voertuig op die perseel.
Beide pogings was onsuksesvol en Kapp sê die vermoede bestaan dat die verdagtes paniekerig geraak het en toe op die vlug geslaan het.
Die goud-kleurige voertuig van die slagoffer het volgens Kapp in die slag gebly toe die verdagtes skote afgevuur het. Die man wie se identiteit teen die ter perse gaan nie bekend gemaak is nie, is gewond en het glo na die Total-vulstasie oorkant die pad gery waar die voertuig in die middel van die parkeerterrein tot stilstand gekom het. Volgens werknemers op die perseel het die man aangedui dat hy gewond is waarna 'n ambulans ontbied is.
Die polisie kon teen die ter perse gaan nie bevestig vanwaar die slagoffer oorspronklik is nie. Die voertuig het 'n GP-nommerplaat.
Intussen is die wit dubbelkajuit-bakkie met 'n Kaapstad registrasienommer kort na die voorval op die Vleesbaaipad buite Mosselbaai verlate gevind. Die Mossel Bay Advertiser het aan die polisie gevra of al nege verdagtes in een voertuig gery het, maar die besonderhede kon teen die ter perse gaan nie bevestig word nie. Die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad het intussen die ondersoek oorgeneem.
Teen die ter perse gaan, was die verdagtes steeds op vrye voet.
Vorige artikels:
- Wegkomvoertuig gevind
- Poging tot roof by vulstasie: Polisie opsoek na 9 gewapende verdagtes
- Gewapende roof by vulstasie
Die toneel by die vulstasie waar die poging tot roof plaasgevind het, is kort daarna afgesper. Foto: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'