Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die polisie in Mosselbaai het ‘n soektog na nege gewapende mans geloods na ‘n poging tot roof by die Engen-vulstasie op die N2 naby Danabaai vanmiddag om ongeveer 13:50.
Hoewel omstanders op die toneel aanvanklik aan die Mossel Bay Advertiser gesê het dat daar ‘n gewapende roof was, het die polisie se kommunikasiebeampte, ao Kappie Kapp bevestig dat dit slegs ‘n poging tot roof was.
Kapp sê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat die mans eers die Engen-vulstasie en kort daarna ‘n transito-voertuig op die perseel probeer beroof het maar waarskynlik paniekerig geraak het en toe op die vlug geslaan het.
“Tydens die chaos was lede van die publiek in die verdagtes se pad en het hulle op mense begin skiet. Een persoon is gewond en is intussen na ‘n hospitaal geneem waar hy behandel word.” Die Mossel Bay Advertiser was op die toneel by die Total-vulstasie oorkant die pad waar ‘n goud-kleurige voertuig met ‘n pap band verlate in die parkeerterrein gestaan het. Polisie was ook by die voertuig teenwoordig maar dit is nog nie bekend of die man wat geskiet is in die voertuig was nie.
Kapp bedank die rolspelers wat die polisie tans op die toneel bystaan. Die verdagtes het in ‘n wit dubbelkajuit bakkie met registrasienommer CAA 7665 in die rigting van Kaapstad gevlug.
Enigeen wat die voertuig sien, word versoek om die KwaNonqaba-polisiestasie te kontak by 044 606 5600.
VIDEO - Polisie loods soektog na rowwers (Video: Jannie Du Plessis).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'