MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier moes verlede week ingryp toe hulle 'n klagte ontvang het dat 'n 15-jarige meisie van Albertinia, sonder haar ouers se toestemming deur 'n man na Groot Brak gebring is.
Polisiewoordvoerder, kst Laurianne Botha sê die meisie het haar skooltas met haar skoolklere daarin by die skool gelos en haar selfoon vir haar niggie gegee. Haar ouers kon haar dus nie opspoor nie.
Volgens kst Botha het 'n speurder verbonde aan die polisiestasie, ao Gerald Rabie om 19:00 die aand inligting ontvang van waar die meisie haar moontlik bevind.
Sy is opgespoor by 'n woning in Wolwedans.
Die polisie het haar onmiddellik teruggeneem na Albertinia en haar in haar ma se sorg vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'