MOSSELBAAI NUUS - ‘n Vrou wat gisteraand in ‘n motorbotsing op Mosselbaai dood is, is ook die ma van twee jong kinders.
Rumeque Taute (28) was ‘n passasier in die maroen Honda waarteen ‘n wit Nissan Navara om ongeveer 18:20 gebots het.
Polisiewoordvoerder ao Pieter Koekemoer sê die Honda waarin Rumeque ‘n passasier was, het regs by Essenhoutstraat ingedraai toe die bakkie, wat in die rigting van Danabaai na Mosselbaai op Louis Fourieweg gery het, die passasierskant van die Honda getref het.
“Die passasier in die Honda is oorlede en die bestuurder van die Honda asook die bestuurder en drie insittendes van die bakkie is na die hospitaal met beserings afgevoer.”
Die botsing het op die hoek van Essenhoutstraat en Louis Fourieweg gebeur.
Rumeque was ‘n bekende gesig op Mosselbaai en het vir jare lank by die Ackermans in Heiderand gewerk.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag. Enige ooggetuies word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, sers Riaan Carelse te kontak by 044 606 2850/1.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'