Die Evangeliese Lutherse Kerk moet al die regskostes van die saak betaal.
Die eiendomme in Roselindlaan, Uitbreiding 6, is baie jare gelede deur die destydse Mosselbaai Munisipaliteit aan die Evangeliese Lutherse Kerk van Afrika oorgedra, op voorwaarde dat dit vir opvoedkundige of kerkdoeleindes gebruik sal word, en onderhewig daaraan dat die eiendomme na die munisipaliteit sal terugval indien dit nie vir dié doeleindes gebruik word nie.
Die skoolgebou het in onbruik verval en het tot so ‘n mate verval dat dit nie meer bruikbaar is nie. Dit het boonop ‘n kuierplek vir ongewenste elemente geword.
Nadat geen versekering van die Lutherse Kerk verkry kon word dat die gebou herstel of gesloop sal word of vir skool- of kerkdoeleindes heraangewend sal word nie, het die munisipaliteit hom op die terugvalklousule in die kontrak tussen die kerk en die munisipaliteit beroep.
Die Kaapse Hoërhof het in 2010 ten gunste van die Lutherse Kerk besluit dat die eiendomme nie na die Mosselbaaise Munisipaliteit moet terugval nie.
Die munisipaliteit het besluit om appèl teen die uitspraak aan te teken omdat dit groot getalle eiendomme aan kerke vir kerkdoeleindes beskikbaar gestel het en steeds beskikbaar stel, en dit ‘n onhoudbare presedent sou skep indien kerke die eiendomme vir ander doeleindes kan gebruik as waarvoor dit toegeken word.
Die appélsaak is op 9 Mei 2013 in die Appélhof aangehoor.
Die Hof het onder meer soos volg bevind: "It was incumbent upon the municipality to act in the interest of its residents, in order to fulfil its constitutional mandate towards them, as set out in s 152 of the Constitution. The municipality can certainly not be faulted for approaching the court as a last resort, when all its compassionate efforts towards attaining an extra-curial solution came to nought."
Die uitspraak is nou gelewer, en die eiendomme moet aan die munisipaliteit teruggetransporteer word.
Pastoor Richard Broekstein van die Evangeliese Lutherse Kerk van Afrika het aan die Advertiser gesê dat die Kerk die uitspraak nie aanvaar nie en dat hul regsverteenwoordiger, Lizel Scholtz Ing, gevra is om die Kerk se saak verder te voer. Die regsverteenwoordiger het hierop kommentaar gelewer deur te sê, "The church is considering to refer this matter to the Constitutional court for appropriate relief".

Die skoolgebou het in onbruik verval en het tot so ‘n mate verval dat dit nie meer bruikbaar is nie. Ingevolge 'n hofbevel moet die grond nou aan die munisipaliteit teruggegee word. Foto's: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS