TUINROETE NUUS - Sowat 100 vroue van die Evangelies Lutherse Kerk se Moria-streek het die afgelope naweek in Oudtshoorn byeengekom. Die tema van die konferensie was gebaseer op Openbaring 21:6 wat lui: "Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met water van die lewe, verniet."
Die streek sluit in die parogieë van Oudtshoorn, Riversdal, Ladismith, Mosselbaai, Haarlem, Tuinroete en Port Elizabeth.
Die konferensie is Vrydagaand geopen met 'n nagmaaldiens gelei deur pastoor Wolf von Kilian en Deken Jacques Grispe. Tydens die diens het die vroue gebid vir families wat swaarkry as gevolg van armoede en werkloosheid, vir terminaal siek mense, vir geestelike groei, vir die kerk se leierskap, vir onderwys en opvoeding van kinders, vir 'n einde aan bendegeweld, kindermishandeling, misbruik van dwelms en alkohol en vroue mishandeling.
Saterdag se program het ingesluit 'n baie inspirerende Bybelstudie onder leiding van pastoor Von Kilian oor die tema, verslae uit die verskillende parogieë en die verkiesing van die streekbestuur van die Vroue Bond.
Sondagoggend het die vroue 'n optog gehou vanaf die Môrester Hostel na die Lutherse Kerk waar die konferensie met 'n nagmaaldiens afgesluit is.
Die preek is gelewer deur pastoor Karin Fourie van die Ladismith Parogie en gehandel oor die tema van die naweek.
"Baie van ons dors na respek, geregtigheid, vrede, liefde, gesondheid en kan dit net net by Jesus kry, verniet" het sy gesê.
Deken Grispe het in sy afsluitingsboodskap die gemeenskap van Oudtshoorn bedank vir hul mildelike ondersteuning van die konferensie.
Die gemeenskap van Oudtshoorn se goeie ondersteuning met donasies het goed bygedra tot die groot suskses van die konferensie. Hy het die vroue en die kerk se leierskap aangemoedig om voort te gaan met die uitbouing van God se koninkryk te midde van die uitdagings wat die kerk in die gesig staar.
"Ons moet aanhou fokus op God wat ons die water van die lewe verniet gee" het hy afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'