MOSSELBAAI NUUS - Die bekende skrywer van Christelike literatuur, Francine Rivers sê: "Circumstances offer choices to be made in life. These choices can lead to destruction or disillusionment or to restoration and renewal for a productive life."
Met September voor hande, word die koms van 'n nuwe seisoen ook aangekondig. Al is daar nog ‘n byt in die lug, bring die lente altyd vrolikheid, nuwe passie, herlewing en energie.
Tydens meeste van ons skooljare, was daar altyd groot opgewondenheid aangesien daar op 1 September gewone klere skool toe gedra kon word.
"Die draai van die seisoen herinner ons altyd weer aan ‘n nuwe begin. God se Skeppergees is dan oral sigbaar in elke nuwe blaartjie, in elke bloeisel wat bot. Eersdaags staan vrugtebome soos lentebruide in die boorde," meen Elize Barnardt van Caritas Care, 'n plaaslike sentrum wat in pastorale narratiewe terapie spesialiseer.
"Vroeglente is ‘n goeie tyd om jou lewenskoers weer in oënskou te neem. Oordink die dinge wat jy wil verander, besin oor wat belangrik is vir jou toekoms wat voorlê, watter verhoudinge is vir jou kosbaar en watter het hulle vervaldatum bereik of was net bedoel vir ‘n seisoen.
Barnardt verduidelik ook dat die seisoen se wisseling ook ‘n tasbare bewys is, dat ook die gevolge van verkeerde besluite, krisisse en lewensprobleme verganklik is.
"Lê hulle neer. Elke dag wat die son vroeër opkom, is ‘n dag nader aan ‘n nuwe roeping, elke dag hou weer nuwe beloftes in. Waag om te word."
Enigiemand wat graag met Caritas Care wil kontak maak, stuur 'n WhatsApp na 071 473 0507.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'