MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het NDK Waardeerders gekontrakteer om vanaf 1 Februarie die munisipale waardasielys op te dateer. Die kontraktermyn geld tot 2026.
Vanaf 1 Februarie tot en met ongeveer die einde van Oktober kan inwoners verwag om 'n span van nege waardeerders in die onderskeie woonbuurte op te merk.
Die waardeerders kan óf per motor, óf te voet deur die areas beweeg om van elke huis 'n opname te maak.
Elke waardeerder sal behoorlik identifiseerbaar wees in klere wat NDK Waardeerders se handelsmerk sal toon, en elk sal met 'n formele identiteitsdokument uitgereik wees waarop 'n kontaknommer vertoon sal word.
Die span sal tussen 08:00 soggens en 18:00 saans, openbare vakansiedae uitgesluit, in die woonbuurte rondbeweeg en mag, veral in die geval van besighede of landbou-eiendomme, foto's van eiendomme neem.
Geen interne inspeksies van eiendomme word onderneem nie.
Die nuwe munisipale waardasielys sal op 1 Julie 2022 geïmplementeer word, en nader aan die tyd sal verdere inligting oor die waardasierol met inwoners gedeel word.
Sou inwoners enige verdere navrae hê, kan 044 011 0175 of die Waardasiekantoor van die munisipaliteit by 044 606 5000 gekontak word, of 'n e-pos kan gerig word aan admin@mosselbay.gov.za
Quentin de Klerk, Martin de Klerk en André Willemse van NDK Waardeerders bespreek die voorbereidings vir die jongste munisipale eiendomswaardasie met die stadsbeplanner, Jaco Roux (tweede van links) en Amanda Geduld van die Waardasie-afdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'