MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van die publisering van die polisie se tweede kwartaal misdaadstatistieke, het KwaNonqaba SAPD in baie kategorieë ver bo die ander stasies in en om Mosselbaai uitgestyg.
In die lig hiervan het die Mossel Bay Advertiser 'n reeks vrae aan die stasiebevelvoerder, lt kol Virgie Julius, gestuur.
Ofskoon dié stasie se getalle vir meeste klagtes meer is as ander stasies, is daar wel 'n daling in sekere misdade, maar terselfdetyd 'n styging in ander.
Oor die feit dat sommige van die gevalle dubbel en selfs driedubbel is in vergelyking met ander stasies en die kommer daaroor, sê Julius die KwaNonqaba SAPD bedien die area in die groter Mosselbaai met die meeste informele nedersettings.
"Daar is ontsettend baie uitdagings wat polisiëring moeilik maak soos bv. beligting, geen toegangspaaie, geen formele addresse nie, ens.
"Daar is omgewingsake wat dus 'n groot impak het op polisiëring in vergelyking met ander stasies in die groter Mosselbaai."
Die vraag is steeds wat gedoen word om die syfers aan te spreek, veral met die teenwoordigheid van seksuele misdade vars in 'n gemeenskap se geheue na die 16 Dae van Akitivisme. Julius sê hulle het reeds met groot sukses meer optredes geloods teen dwelmhandelaars en ongelisensieerde drankpersele.
"Ons werk nou saam met ander misdaadvoorkomingsagente en maak staat op die goeie verhouding tussen die polisie en die gemeenskap. Daar is met baie positiewe energie saam met ons GPF bewusmakingsveldtogte gehou en ons sien die impak wat dié veldtogte het in ons gemeenskappe."
Een aspek wat ook spesifiek in die statistieke uitgestaan het, was die feit dat KwaNonqaba die top-30 in die land gehaal het in die brandstigtingkategorie.
Die Advertiser het Julius gevra of buitengewone gevalle hier tot die stasie se posisie op dié ranglys bygedra het.
"Geen buitengewone gevalle hier nie. In die meeste gevalle is dit in 'n gesinsgeweld verband. Met die hulp van ons slagoffer vriendelike fasiliteit se personeel, word mense opgevoed rakende die wet en hul regte wanneer dit kom by gesinsgeweld," sê hy.
Die afname in klagtes ten opsigte van sekere misdade sê Julius kan toegeskryf word aan die volgehoue strewe na vennootskappe in die misdaadvoorkomingsaksies.
"Meer buurtwagte word gestig asook meer straatkommitees kom na vore."
Die afnames sluit roof met verswarende omstandighede, roof by nie-residensiële persele, diefstal uit motorvoertuie, veediefstal asook winkeldiefstal in. Julius sê daar is nie noodwendig spesifieke aandag aan hierdie misdade geskenk nie, maar dat die gemeenskap net 'n groter verantwoordelikheidsrol aanvaar om te help om misdaad te bekamp.
Ten spyte van die afname in roof met verswarende omstandighede, was daar weens sulke insidente steeds sterftes wat die gemeenskap geruk het.
Op die vraag of daar spesifieke maatreëls vir dié misdaad ingestel gaan word, sê Julius hulle is in die "bevoorregte posisie om ekstra ontplooing van lede, veral van ons distrikskantoor se spesiale eenhede, asook die ontplooing van ons sigbare polisiëring se ondersteuningspersoneel" te geniet. Dit is veral om te konsentreer op intelligensie aangedrewe optredes.
Tydens die feesseisoen sê hy sigbare polisiëring by strande en winkelsentrums gaan toeneem.
"Ons glo in die noue samewerking met ander rolspelers soos munisipale wetstoepassers, buurtwagte en die GPF. En ons gaan opskerp op ons deur-tot-deur bewusmakingsveldtogte."
Wat die gemeenskap se rol in misdaadbekamping betref, sê Julius hulle moet betrokke raak by hul buurtwagte, straatkommittees en die GPF.
"Meld misdaad aan en moet nie geleenthede skep vir misdadigers nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’