MOSSELBAAI NUUS - 'n Byeenkoms teen plaasmoorde waartydens nagenoeg 500 voertuie die afgelope Sondag op Mosselbaai deelgeneem het, het nasionale nuushooftrekke gehaal. Soortgelyke groot byeenkomste is die vorige dag op Saterdag, 18 Julie oftewel Mandeladag in Pretoria en Kaapstad gehou.
Hoewel die reaksie op die inisiatief, veral op sosiale media oorwegend postief was, was daar diegene wat te kenne gegee het dat die samekoms, wat talle gelok het, in die lig van die Covid-19-pandemie, ondeurdag was.
Dit mag ook beteken dat die organiseerders wetlik aanspreeklikheid sal moet aanvaar.
Minderheidsgroepe
Hennie Booyens, 'n boer van Groot-Brakrivier wat die bal plaaslik aan die rol gesit het meen egter dat hy niks verkeerd gedoen het nie. "Dis tyd dat mense wakker word en opstaan vir hulle regte."
Booyens het verlede Donderdag op sosiale media van die beplande byeenskomste teen plaasmoorde te hore gekom. In 'n japtrap is die woord wyd genoeg versprei en Sondag om 10:00 is daar by 'n perseel langs die R102 byeengekom. Talle motorfietsryers het ook opgedaag. Die versoek was dat deelnemers in swart geklee moes wees en swart vlae moes saambring.
Mossel Bay Advertiser-joernalis, Jannie du Plessis wat videomateriaal tydens die byeenkoms geneem het, berig dat die konvooi voertuie wat stadig in die linkerbaan op die N2 beweeg het, naderhand van Groot-Brakrivier tot by die Klein-Brakrivier-afrit gestrek het.
Elroy Baron, voorsitter van die Suid-Kaapse Khoi-groepe het sy steun aan die byeenkoms toegesê. Hy het die plaasmoorde beskryf as "net 'n groter agenda vir onteiening sonder vergoeding".
"Dis eintlik waaroor dit gaan en as ons dit nie nou stop nie, dan het ons groter probleme in Suid-Afrika. Dis tyd dat ons almal saamstaan, as minderheidsgroepe. Soos ons hier is, vandag, is ons as minderheid eintlik die meerderheid," het Baron gesê.
Plakkate het deelnemers se standpunte verkondig. Foto: Guido Brits
Byeenkoms gewettig
Lede van provinsiale verkeer het saam met die konvooi op die N2 beweeg, hoewel hulle glo nie van die beginpunt af teenwoordig was nie. Booyens berig dat hy ná die optog na die ontmoetingsplek teruggekeer het en daar deur nog verkeers- en polisievoertuie ingewag is.
"Daar was niemand op die toneel toe ons byeenkoms begin het nie. Hoekom toe? Na alles verby was? Sê vir Bheki Cele, tót plaaasmoorde nie stop nie, gaan ons elke maand 'n byeenkoms hou," het Booyens vandeesweek telefonies aan die Advertiser gesê.
Volgens kapt Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie, in wie se bedieningsarea die byeenkoms gehou is, is 'n saak aanhangig gemaak ingevolge die Rampbestuurswet. Hiervolgens word byeenkomste van meer as 50 mense onder die huidige nasionale ramptoestand verbied. "Na afloop van die ondersoek, sal die bevindinge aan die staatsaanklaer voorgelê word vir beslissing oor verdere vervolging."
Die saak word ondersoek deur sers Ayabonga Lolo van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'