MOSSELBAAI NUUS - Daar is geen gevaar dat die Posboom weens die myte op sy blare kan omkom nie.
"Ons monitor daagliks die Posboom en het CapeNature geraadpleeg," sê Tania Colyn, hoof van kommunikasie van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.
Sy het op navrae van die Mossel Bay Advertiser reageer en sê beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) inspekteer gereeld die Posboom en die ander inheemse bome en plante op die museumterrein.
"Die Posboom word gereeld deur boomkenners van onder meer Suid-Afrika, selfs internasionale kenners besoek en ondersoek. Ons beraadslaag gereeld met kenners van die Botaniese Vereniging en waardeer alle insette.
Volgens die inheemse boomkenners is die Posboom wel in 'n normale en gesonde toestand. Daar is tans borer beetles op sommige van die aalwyne."
Die navrae volg op kommer wat op facebook uitgespreek is oor letsels en uitgroeisels aan die Posboom se blare wat daarop mag dui dat die boom siek kan wees. Kommer is ook uitgespreek oor die witluis wat op heelwat van die aalwyne voorkom.
Colyn sê niks moet klaarblyklik gedoen word aan die myte nie.
"Oor die jare het ons altyd organiese, omgewingsvriendelike en mensvriendelike metodes gebruik wanneer daar siektes op plante in die tuin voorgekom het. As dit nie werk nie, het ons meer konvensionele behandelings toegepas, altyd deur, of in oorleg met kundiges."
Op die vraag na watter roetinemaatreëls bestaan om na die welstand van die plante in die tuine op die museumterrein om te sien, in ag genome dat peste ook op die aalwyne voorkom, het Colyn geantwoord: "Ons personeel onderhou die terrein en deur die Vriende van die Museum is daar ook plaaslike plantkundiges wat op vrywillige basis raad gee oor die instandhouding van die tuin. Die personeel konsulteer wyd om plaaslike kenners se kundigheid te gebruik as deel van die instandhouding van die terrein."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'