John en sy eggenote, Dalbrin, is deur die lede van die stasie by Blasters in Voorbaai met 'n heerlike ete verras.
Die KwaNonqaba SAPD bevelvoerder, Lt Kol Johnny Braaf, het sy bevelsbevoegdheid aan John se vrou 'gedelegeer' en die Knysna boorling van harte bedank vir sy jare-lange toegewydheid en diensingesteldheid. Hy het dienende lede ook gemaan dat hulle 'n uitstekende verteenwoordiger verloor.
"John Blou was vir jare meer getrou aan die polisie as aan sy gesin. Nou word die bordjies verruil en kan sy gesin voorkeur geniet. Nou lê die belangrikste deel van julle lewe voor en ek wens jou gesondheid toe om jou drome uit te lewe," het Kol Braaf bygevoeg.
Kol Braaf het gesê dat hierdie baie bekende polisielid 'n groot leemte laat in die KwaNonqaba Polisiefamilie, en dat hulle altyd daar sal wees vir hom en sy familie.
Die hoof van die KwaNonqaba Ondersoekeenheid, Kapt Christo Serfontein het Ao Blou se geskenk aan hom oorhandig alvorens Sers Bianca Pedro, een van Ao Blou se skoflede, hom namens die skof vir oulaas gegroet het.
"Jy het altyd deur jou voorbeeld gelei, baie dankie vir alles wat jy vir elke lid van die skof beteken het, ons sal jou altyd in ons harte dra," het Sers Pedro benadruk.
In 'n laaste woord aan sy oud-kollegas het Ao John Blou die Here geloof wat hom deur sy 30-jarige loopbaan beskerm en gelei het. Hy het die twee groot tragiese voorvalle wat in sy polisieloopbaan gebeur het; eerstens toe hy raakgeskiet is en toe sy gesinshuis aangeval is en hulle in 'n veilige huis moes vertoef, voorgehou as van die gevalle waar gebede hom deurgedra het.
"Dit was louter plesier om met elk van KwaNonqaba se polisielede saam te werk, in moeilike en goeie tye. Baseer julle lewe op vrede en liefde en laat dit julle lei. As polisielid by KwaNonqaba het ons 'n paar uitdagings die hoof gebied, maar dit was altyd vir my lekker om met julle saam te werk," het Ao Blou afgesluit.
Ook mev Blou is met 'n ruiker verras wat deur Kapt TC le Roux oorhandig is.

Lt Kol Johnny Braaf, bevelvoerder van die KwaNonqaba SAPD het op Woensdag,
3 September van Ao John Blou en sy vrou, Dalbrin, afskeid geneem.
Ao Blou gaan na 30 jaar in die polisiediens met wel verdiende pensioen.

Sers Bianca Pedro, 'n skoflid van Ao John Blou, lei vir oulaas haar bevelvoerder na vore
waar hy 'n blyk van waardering vir 30 jaar se getroue diens ontvang het. Sy het hom ook
bedank vir die voorbeeld wat hy deurgaans gestel het.

Kapt TC le Roux het 'n ruiker aaan mev Dalbrin Blou, eggenote van Ao John Blou
oorhandig as blyk van waardering vir haar ondersteuning oor die afgelope 30 jaar.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'