KLEIN BRAK NUUS - Die Klein-Brakrivier Vrouelandbouvereniging (VLV) het op 1 Junie ‘n volle 84 jaar oud geword. Volgende jaar, met die tak se 85ste verjaardag, gaan daar 'n groot makietie wees en vandie jaar is lede gevra om iewers in die natuur of tussen blomme, die geskiedenis te onthou en hulde aan die stigter, Dora Robertson van die tak te bring.
Die voorloper van die VLV was huisvlyttakke wat deur die departement landbou gestig is.
Die eerste huisvlyttak is in 1921 in George gestig en in 1926 was Robertson van Klein Brak by die stigting van die huisvlyttak in Diepkloof teenwoordig.
Met die koms van die VLVK na die Suid-Westelike Distrikte in 1929, word die George- en Diepkloof-huisvlyttakke die eerste twee VLV-takke in hierdie distrik. Robertson word die voorsitter van Diepkloof se VLV-tak.
Op 28 Julie 1933 word afgevaardigdes van al die takke in die Suid-Westelike Distrikte (SWD) na George gestuur waartydens ‘n sirkel vir hierdie distrikte tot stand kom en word Robertson as die eerste presidente van die SWD Sirkel verkies.
In 1938 word Robertson deel van die VLVK se hoofbestuur, en op 1 Julie 1938 word die Klein-Brakriviertak op die plaas Groot Zorgfontein deur haar gestig.
Sy is dan ook die tak se eerste voorsitter en bly aan stuur van sake tot einde 1944. Notules meld min of meer 10 lede en altyd ‘n hele paar besoekers aan. Vergaderings word aanvanklik van huis tot huis op die naburige plase gehou.
Vandag is die tak steeds vuur en vlam aktief en het dit tot die tweede grootste tak (tans 45 lede), in die SWD gegroei. Die tak se missie bly dieselfde as 84 jaar gelede, om lede se vaardighede te ontwikkel sodat hulle ‘n belangrike ondersteunende rol in die gemeenskap kan vertolk.
'Ons bring jou die nuutste Klein Brak, Tuinroete nuus'