MOSSELBAAI NUUS - Die voorsitterspan van die Klein-Brakrivier VLV-tak het Saterdag, 17 Julie serpe wat deur lede van die tak gemaak en geskenk is, vir die serpeprojek oorhandig.
Die projek (Secret Scarfs) is 'n inisiatief van 67 Blankets for Nelson Mandela Day en word jaarliks in Julie gedoen.
Serpe word oor bome, pale, drade en heinings gegooi vir enige behoeftige om dit gratis te neem. Die datum vir die nasionale verspreiding van hierdie projek sal nog bekend gemaak word, sodra Covid-19 dit toelaat.
Die Klein-Brakrivier VLV-tak het saam met Marilyn Collins, die stigter van die Frolicking Ladies-groep en ander gemeenskapslede uit die Midbrak-omgewing gespan om die 67 Blankets-ambassadeurs, Ria Potgieter en Jenni Joubert, by te staan deur vir Mandeladag bydraes te lewer.
Intussen het 67 Blankets ook mussies aan kindertjies by skole en kleuterskole uitgedeel, alles binne die Covid-19-reëls. Die 67 Blankets for Nelson Mandela Day het reeds in 2013 tot stand gekom, na president Mandela se eertydse assistent Zelda le Grange, Carolyn Steyn uitgedaag het om 67 komberse vir Mandela se verjaarsdag op 18 Julie te maak, brei of hekel.
Hierdie projek hou duisende minderbevoorregtes warm. Die 67 Blankets-ambassadeurs vra dat almal moet aanhou met hierdie inisiatief sodat daar in 2022 soveel meer warmte kan wees.
Kleuters van die Powertown-kleuterskool is met mussies en serpies bederf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'