Shannon is vergesel deur mnr Derrick Hendricks, onderhoof van Hoërskool Sao Bras, en ook rugby-afrigter van formaat.
Mnr Hendricks het 'n passie vir stap en neem gereeld leerders op staptogte in die omgewing. Aldus sy vrou Lenise, wat tydens die onderhoud vir hom ingestaan het omdat hy tans in Nieu-Seeland is, het Derrick en Shannon maar net twee weke gehad waarin hulle kon voorberei vir hulle ekspedisie.
Sharon Josephs, Shannon se ma, sê dat sy aanvanklik nie hierdie 'middelkind' van haar wou glo toe hy met die nuus van sy voorgenome avontuur by die huis aankom nie, aangesien hy so graag en gereeld vir haar poetse bak.
Ofskoon Shannon maar klein van gestalte is, vertel Lenise dat haar man hom juis gekies het omdat hy die seun, 'n skrumskakel van sy o/15-rugbyspan, as 'n jongman met groot deursettingsvermoë waargeneem het. Lenise lag goedig as sy vertel dat Shannon so ewe pantoffels vir die stappery aangeskaf het omdat hy gereken het dat dit lekker 'lig' is vir die stap.
Tipies tiener was die rondrits in die vliegtuig, wat vir hom 'n eerste was, egter 'n groot hoogtepunt.
Shannon was die enigste leerder op die ekspedisie, wat uit sewe stappers van onderskeidelik Suid-Afrika, Amerika en Tanzanië bestaan het. Hy vertel hoe hy tegelyk opgewonde en benoud gevoel het toe hy aan die voet van die berg staan en opkyk na die tog wat voorlê, veral toe hy dink aan sy ma se woorde aan hom voor sy vertrek: "Maak ons trots en klim tot bo!"
Op die vierde dag van hulle staptog het dit begin reën en boonop kry Shannon toe hoogtesiekte, wat veroorsaak het dat hy amper moes terugdraai weens die erge hoofpyn en naarheid wat kenmerkende simptome is.
Volgens Lenise, wat daagliks deur die skool se interkomstelsel terugvoering oor Shannon se staptog gegee het, was daar 'n ongekende gedempte atmosfeer onder sy skoolmaats toe hulle verneem hoe sleg dit met Shannon gaan. Die hele skool het egter saam gebid en met ingehoue asems gewag vir nuus uit Tanzanië.
Vir Shannon was die nuus sleg, maar dis juis in hierdie tyd dat mnr Hendricks, die goeie afrigter en mentor wat hy is, hom moed ingepraat het.
Met sy ma se woorde in sy kop het hy besef, naarheid ten spyt, hy sal moet eet anders bereik hy nooit daardie kruin nie. Lenise vertel dat toe die nuus kom dat Shannon Uhuru Piek bereik het, was daar 'n dawerende gejuig in Sao Bras vir hulle nuwe Gr 9-held!
Sharon en ouma Patricia vertel dat hulle maar op hulle knieë gebly en min geslaap het tot hulle weer as gesin herenig is. Hulle sê egter beide met oortuiging dat Shannon se geloof in sy Skepper en in homself, hom vastigheid gee en daarom het hulle geweet dat hy dit enduit sal maak. Met die terugtog was daar weer ander uitdagings soos die sneeu waardeur hulle moes stap, wat so dik gelê het dat mnr Hendricks Shannon vir ente moes dra of sleep.
Shannon sê hy het baie oor homself geleer; hy het geleer dat hy kan vasbyt en sy oë blink as hy vertel dat wanneer 'n mens so deur die wolke begin stap op pad na die kruin van Kilimanjaro, voel dit kompleet of jy hemel toe gaan. Vra jy hom of hy dit weer sal doen, skud hy net sy kop en lag verleë, maar hy is tog baie gretig om die staproetes in die omgewing te begin verken. En as 'n mens hom vra of sy skoolmaats nou met ander oë na hom kyk, skram hy skaam-skaam weg met 'n sydelingse: "Seker maar, juffrou!"
Die GLOBE Program is 'n wêreldwye primêre en sekondêre skool-gebaseerde wetenskap en opvoedkundige program. Die Globe Program se visie is om leerders, opvoeders en wetenskaplikes te bemagtig en te ondersteun om in samewerking met organisasies soos onder andere NASA, die dinamika van die aarde te ondersoek en te bestudeer. Vir meer inligting oor die GLOBE Program, besoek www.globe.gov.
Sien ook Sharon Josephs se bedankingsbrief in vandeesweek se ‘Lesers sê hul sê’.

Op die kruin van Kilimanjaro! Met Afrika aan hul voete deel mnr Derrick Hendricks (2de van links) en Shannon Josephs (3de van links) hul uitsonderlike triomf met die ander stappers op Uhuru Piek.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS