MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai-munisipaliteit het op 15 Februarie in beginsel die sekondering van die direkteur van korporatiewe sake, Edward Jantjies na die provinsiale regering goedgekeur. Jantjies sal as administrateur vir Kannaland-munisipaliteit ontplooi word," berig die DA Mosselbaai-kiesafdelingvoorsitter, Dirk Kotzé.
As administrateur sal Jantjies die omkeerstrategie en herstelplan vir Kannaland-munisipaliteit implementeer. Daarom sal hy besluite deur Kannaland-munisipaliteit se raad mag veto.
Kotzé sê in 'n persverklaring die Wes-Kaapse Regering se optrede strook met hul grondwetlike verpligting en spreek van sterk en bekwame leierskap, soos wat van 'n regering bekend vir bewese politieke en administratiewe leierskap verwag kan word. Dit is kenmerkend van 'n kultuur van verantwoordelik-heidbesef as bekwame staatsorgaan wat hul pligte effektief, doeltreffend, eerlik en koste-effektief verrig.
Artikel 40 en 41 van die Grondwet van 1996 bepaal oor inter-owerheidsverhoudings dat alle sfere van owerheid onderskeibaar, maar interafhanklik en verwant is. Die belangrikheid van hierdie grondwetlike bepaling word ook verder versterk deur die Intergovernmental Framework Act (13 of 2005). Minderheidspartye se miskenning van dié grondwetlike beginsel is kwaadwillig.
Dit sal nie in munisipaliteite naasliggend aan Kannaland se belang wees om bloot te kyk hoe daardie munisipaliteit verder agteruitgaan nie. Inwoners daar word basiese regte en dienste ontsê.
Dit kan lei tot 'n migrasie na ander dorpe. Daarbenewens moet daar die situasie in Kannaland met 'n ingesteldheid van medemenslikheid benader word. Jantjies sal as administrateur van Kannaland ervaring van onskatbare waarde opdoen. Daar is geen beter leerskool as 'n munisipaliteit in 'n verknorsing nie. Hy sal steeds die hoof OVK-beampte vir Mosselbaai as kiesafdeling wees. Hy sal voortgaan om advies, hulp en leiding te gee aan Gwynne Harding wat in sy pos sal waarneem. Die provinsiale regering vergoed Mosselbaai vir ongeveer 70% van Jantjies se salaris en sal sy uit-die-sak-uitgawes dek. Dit is dus onwaar dat Mosselbaai Munisipaliteit of sy inwoners swakker daaraan gaan toe wees.
Die aangeleentheid moenie in isolasie beskou word nie. Die belangrikheid van interregeringsverhoudinge moet in ag geneem word. Voordele van gesonde verhoudinge soos die netbalbane wat in Februarie aan Mosselbaai-munisipaliteit oorhandig is, en die onderneming vir verdere befondsing vir nóg bane is maar een voorbeeld van hoe Mosselbaai voordeel trek uit goeie interregeringsverhoudinge.
Daar is talle ander voorbeelde van die voordele van goeie samewerking, onder meer die herstel van die R102 teen R200 miljoen, meer as R1miljoen befondsing vir die beplande RSEP-projek, die vestiging van die multimiljoenrand Jeug- en Thusong-sentrums. Vergelyk ook die voortreflike samewerking en verhoudinge met George-munisipaliteit wat tydens die brande in Januarie by Hartenbos Heuwels hulp verleen het. Aangesien die Provinsiale Kabinet reeds op 18 Desember besluit het om Kannaland-munisipaliteit onder administrasie te plaas, kon van alle partye wat verteenwoordiging in die provinsiale wetgewer het verwag word om van die besluit kennis te neem.
"Jantjies word alle sukses toegewens. Ons sien uit daarna om hom terug te verwelkom met die magdom kennis en ervaring wat hy wel sal terugploeg in Mosselbaai," sê Kotzé.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'