TUINROETE DISTRIKNUUS - Die Covid-19-pandemie veroorsaak armoede. Mense sukkel en probeer selfonderhoudend wees. Dalk het jy 'n paar hoenders vir eiers en vleis, eende, 'n skapie, bees of 'n varkie op jou erf wat jy vetmaak vir die Kersfeesmaal of handel mee wil dryf.
Helaas, jy mag nie sommer net 'n mes gryp en dit self slag nie. Nasionale wetgewing, plaaslike verordeninge en munisipale regulasies bepaal streng maatreëls.
Dit reguleer nie net die aanhou en slag van diere nie, maar beskerm ook die gesondheid en welsyn van mense.
Die wet op veiligheid van vleis verbied die slag van diere op enige plek buiten by 'n goedgekeurde slagpale. Dit verbied ook die verkoop van vleis vir menslike gebruik indien dit nie by 'n goedgekeurde slagpale geslag is nie.
Dié verbod is gelukkig, binne gesondheidsbeperkinge, nie van toepassing op die slag van diere vir eie gebruik, kulturele en/of godsdienstige praktyke nie.
Neem egter kennis dat wanneer 'n dier by 'n slagpale geslag word, word die karkas deur 'n vleisinspeksteur geïnspekteer en indien goedgekeur, beteken dit dat die karkas vry is van enige siektes. Met die slag van diere vir eie gebruik word die karkas nie deur 'n vleisinspekteer geïnspekteer nie. Dus is die risiko vir siektes baie groter.
Diere word hoofsaaklik op drie plekke aangehou
- Landelike gebiede (plaas);
- Buitestedelike gebiede (op die grense van 'n dorp waar die landelike strook dikwels slegs met 'n pad van die dorspsgebied geskei word);
- Residensiële erwe. Die meeste munisipaliteite het verordeninge aangeneem wat riglyne uiteensit vir die aanhou van diere, met die uitsondering van troeteldiere op 'n residensiële erf. Stel vas wat in jou omgewing geld.
In alle gevalle, hetsy of diere vry in 'n kamp rondloop of op hok aangehou word, moet daar genoegsame weiding en waterbeskikbaarheid wees en maatreëls moet in plek gestel word om die uitbroei van vlieë te verhinder.
Indien diere op hok aangehou word, bepaal verskeie riglyne deur die department van landbou die ligging, die soort struktuur en die aantal diere wat aangehou mag word.
Vanuit 'n munisipale gesondheidsperspektief word die nodige vereistes gestel om sodoende enige gesondheidsoorlaste en/of gevare en omgewingsbesoedeling te voorkom.
Diere op hok
Wanneer diere soos varke of hoenders op hok aangehou word, is die volgende vereistes van krag:
- die struktuur (hok) mag nie onooglik wees nie en dit moet duidelik met die eienaar se naam en adres gemerk wees;
- die vloeroppervlak moet van 'n ondeurdringbare materiaal vervaardig (sement of beton) wees, met 'n afloop aan 'n goedgekeurde beskikkingstelsel gekoppel vir die wegdoending van afvalwater;
- genoeg water moet beskikbaar wees vir skoonmaakdoeleindes;
- geen opeenhoping van mis buite hokke, asook buite die afgebakende areas nie;
- geen opdamming van afvalwater rondom die hok of omliggende areas nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'