MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het onlangs inspeksie gehou by die polisiestasie op Groot-Brakrivier. Die inspeksie volg klagtes dat die toilette by die hofgebou agter die stasie, buite werking en in 'n haglike toestand is.
Die Mossel Bay Advertiser het soortgelyke klagte van die publiek ontvang en tydens 'n besoek aan die perseel het dit geblyk dat die toilette wel in 'n werkende toestand is.
Woordvoerder van die munisipaliteit, Herman Pieters sê die inspeksieverslag is in Augustus 2019 opgestel en aan die stasiebevelvoerder oorhandig vir sy aandag. "Hulle (die polisie) sal verder met hul betrokke departemente opvolg."
Pieters sê tydens inspeksie was die toilette skoon. "Ek weet daar was in die verlede probleme met die suig van die polisiestasie se suigtenke as gevolg van wanbetaling vir dienste gelewer. Een toilet was nie in werkende toestand nie en die spoelmeganisme was stukkend. Klaarblyklik is die betalingsprobleem uitgesorteer en word die tenke weer gesuig.
"Dit moet egter baie gereeld gedoen word omdat grondwater in die tenke dreineer wat tot gevolg het dat dit meer gereeld uitgesuig moet word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'