Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die I am Able uitreik-veldtog het op Maandag, 17 April, afgeskop as deel van die Outisme Bewusmakingsveldtogte wat wêreldwyd in April gehou word.
Dié uitreik met die tema Use Your Voice for Change, onder leiding van die ETHAN-projek (Education and Training Hub for Autism Needs) se fokus vanjaar is om groter bewustheid te skep vir die behoeftes van alle gestremdes in die Mosselbaai-omgewing.
FOTOGALERY: Use Your Voice for Change
Die Dias Primêre Skool was die gasheer vir die begin van die veldtog met inspirerende boodskappe en optredes deur die Lunchbox Theater, die Zekwanda Foundation, die Juweeltjies, ZJ Hulpsentrum en 'n rolstoel-dans deur die Association for People with Disabilities. Die skoolhoof van Dias Primêre Skool, Genevieve Muller, vertel dat dit 'n groot eer vir hulle was om gasheer te wees vir dié veldtog.
"Ons skool is gebou om mense met gestremdhede te akkommodeer en vandag was die eerste keer dat mense die ramps gebruik het. Die kinders is ook nie gewoonlik so stil nie, maar hulle was so begeesterd deur die vertonings dat hulle doodstil gesit en geluister het. Wat my die meeste getref het, was die outistiese seun wat nie kan praat nie, maar so mooi sing."
Muller is veral trots op een van hul werkers, Lowhein Louw. Hy is doofstom en die skool was die eerste instansie wat hom die geleentheid gegee het om 'n werk te beoefen en sodoende selfversorgend te wees.
Grootste uitdaging
'n Werksessie is gehou waar die verskillende groepe hul behoeftes en probleme kon bespreek wat op Dinsdag, 18 April, aan die Mosselbaai-munisipaliteit voorgelê is. Pieter Saaiman, stigter van die Physically Disabled Academy op Mosselbaai, vertel dat hul grootste uitdaging openbare vervoer is en 'n veilige bymekaarkomplek waar persone met gestremdhede sportaktiwiteite kan beoefen, waar spesiale programme aangebied en werkwinkels gehuisves word.
Maggie Ngnguta, van KwaNonqaba, se nie-winsgewende organisasie, Nokuthula Disabled and Care Centre, versorg 26 gestremde mense waarvan die meeste deur familie agtergelaat is. Sy sê sy word nou te oud om alles self te doen en het mense aangestel om haar te help.
Sy het egter fondse nodig om hulle te betaal, kos en kruideniersware aan te koop en benodig veral weggooidoeke vir kinders én grootmense. Caroline Plaatjies is die pleegma van 'n outistiese seun, Zihan Erasmus (16), en 'n dogter, Rashida Moolman (23).
Sy vertel dat Zihan 'n baba van nege maande was toe die polisie hom vir haar gebring het. Caroline beskryf die dag se aktiwiteite as baie leersaam, maar ook baie hartseer, veral die klein kindertjies se opvoering. Sy voel dat daar te min gedoen word vir outistiese kinders.
"As hulle 18 word, sit hulle net by die huis, hulle kry nie werk nie. Daar is geen voorsiening vir ons kinders nie."
VIDEO - Pieter Saaiman, voorsitter van die Disabled People of South Africa.
VIDEO - Genevieve Muller, die hoof van Diaz Primere Skool in Mosselbaai.
VIDEO - Caroline Plaatjies en Zihan Erasmus (16) beskryf hul uitdagings.
VIDEO - Diane Hobbs, director of the ETHAN Project (Education and Training Hub for Autism Needs).
VIDEO - Elize Nel, Direkteur van Gemeenskapsdienste, Mosselbaai-munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’