MOSSELBAAI NUUS - Hoewel heelwat mense in die groter Suid-Kaap waarskynlik geregistreerde orgaanskenkers is, is daar onlangs vir slegs die tweede keer in die geskiedenis van die Life Bay View-hospitaal en in samewerking met die SA Orgaanskenkingsvereniging verskeie organe van een vrou vir orgaanoorplanting gebruik.
'n Vrou van George se eggenoot het op 21 Desember toestemming verleen dat verskeie organe, onder meer die hart, lewer, niere, oë, vel en gebeendere vir lewegewende en lewensverrykende oorplantings aangewend mag word.
Dit het tot 'n kettingreaksie van gebeure gelei omdat aan baie streng voorwaardes en vereistes voldoen moes word om te verseker dat die organe betyds by die onderskeie ontvangers daarvan uitkom.
Uiteindelik is een van die vrou se niere by die Groote Schuur-hospitaal, en die ander by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal oorgeplant.
Verskeie ander begunstigdes het gebaat by die onbaatsugtige skenking van die een vrou.
Die hospitaalbestuurder van Life Bay View-hospitaal, Lida Swart, sê: "Orgaanskenking kan die verskil tussen lewe en dood beteken, of 'n ongelooflike verskil aan die lewenskwaliteit van' n ontvanger beteken,
"Die gemeenskap van Mosselbaai word aanmoedig om meer uit te vind oor orgaanskenking en as skenkers te registreer.
"Raak betrokke en maak sodoende moontlik die verskil in iemand se lewe."
Die koördineerder van orgaanoorplantings by die Netcare se afdeling vir orgaanskenkings, Alexia Michaelides, het Life Bay View-hospitaal, Susan Visser en spesifiek die personeel verbonde aan die intensiewe-sorgeenheid en die teater, bedank vir hul vriendelike, professionele en effektiewe hulp tydens die orgaanskenkingsproses.
"Beide die twee pasiënte wat die vrou se niere ontvang het, vaar baie goed," aldus Michaelides.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'