GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die vroue van Blok 14 NG-gemeente Groot Brak was verlede week die gasvroue van 'n spesiale fyntee (high tea) wat by die Groenkloof-aftree-oord, Reebok aangebied is.
Die toegangsfooi was 'n oorspronklike hoed en bordjie eetgoed. Die opgewonde gaste het aan twee keurig gedekte langtafels aangesit vir die middag se pret en plesier.
Die hoede was iets om te aanskou en die beoordeelaars moes mooi dink om die uiteindelike wenners aan te wys tussen elegante, snaakse, kulturele hoede, hoede wat 'n storie vertel en hoede wat persoonlikhede weerspieël het. Aan talent was daar geen tekort nie en Kobie Smith (82), het vyf van die hoede self gemaak. Drie van haar skeppings het pryse gewen.
Deurentyd is daar gesmul aan die groot verskeidenheid lekkernye en natuurlik was daar ook 'n sopie sjerrie geniet om die gemoedere verder lig te hou. Te oordeel aan die sukses van die geleentheid, gaan beslis meer sulke jolighede in die nabye toekoms aangebied word.
Die wenners onder die vroue is Janny Smith 92 (wenner), Nelie van der Linde (2de) en Wilna Lourens (3de).
Die manswenners is Hannes van Eeden (2de plek), Hentis Nel (wenner) en Johan du Plessis (3de plek).
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'