Die eienaar van drie van die olifante, mnr Gerhard van Rooyen, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig ses van die olifante ter sprake, wat volgens die NDBV as jong olifantkalfies by Elephants of Eden (EOE) deur hanteerders 'gestrek', geskok en geslaan is, is op sy plaas.
Volgens inligting is daar 'n dispuut oor drie van die ses olifante wat, alhoewel hulle op mnr Van Rooyen se plaas loop, glo nie sy eiendom is nie.
Mnr Van Rooyen het erken dat van die hanteerders op die beeldmateriaal wat die beweerde mishandeling ten toon stel, steeds in sy diens is.
Hy het egter gesê die olifante doen tans geen safaris nie, dat dit goed gaan met hulle en dat hulle nie gebruik word om 'n inkomste te genereer nie.
Mnr Van Rooyen wou nie toelaat dat die Mossel Bay Advertiser foto's van die olifante soos hul huidiglik lyk, neem nie.
Intussen het 'n moddergooiery na sosiale netwerke oorgespoel nadat die eienaar van Knysna Elephant Park, Lizette Withers, vuil wasgoed in die openbaar begin was het deur verskeie aantygings teen mnr Van Rooyen en ook die NDBV te maak.
Withers het erken dat die mishandeling plaasgevind het by EOE in Alexandria, wat glo intussen verkoop is. Volgens Withers was van die olifante ter sprake die eiendom van mnr Van Rooyen en nie van die Knysna Elephant Park nie. Sy het in 'n verklaring gesê dat daar destyds teen die hanteerders van EOE opgetree is, maar dat EOE geen stappe teen mnr Van Rooyen se hanteerders geneem het nie.
Tydens die beweerde mishandeling was daar volgens Withers 'geen se-nior bestuur teenwoordig nie' en was die mishandeling die inisiatief van die hanteerders gewees. Verskeie vrae is egter deur lede van die publiek aan Withers op die Facebook-bladsy van Knysna Elephant Park gerig, onder meer hoekom sy nie die mishandeling gerapporteer het nie. Volgens Withers het sy nie gemeen sy sou iets uitgerig kry deur die mishandeling aan te meld nie.
Intussen is daar gerugte dat daar aansoek gedoen is vir 'n vervoerpermit vir die olifante van Indalu Privaat Wild-reservaat. Mnr Van Rooyen het egter oor die bewering van 'n siviele eis, wat glo in die Mosselbaai Landdroshof toegestaan is om die olifante te skuif, gesê dit is onwaar.
Die mediawoordvoerder van CapeNature, mnr Justin Lawrence, wou nie kommentaar lewer oor die genoemde permit nie, omdat hy sê daar regspro-sesse oor die olifante tussen die NDBV en Knysna Elephant Park is.
"CapeNature is geskok oor die beeldmateriaal van die mishandeling van die olifante, wat glo in 2008 reeds gebeur het. Ons vertrou dat die NDBV hul mandaat om na diere se welsyn te kyk, sal vervul."
Volgens die Nasionale NDBV In-spekteur, Wendy Willson, het Withers hul toegang geweier toe die NDBV onlangs 'n inspeksie by Knysna Elephant Park wou doen.
"Dit, ten spyte van die feit dat ons 'n lasbrief gehad het om die inspeksie uit te voer."
Withers het Woensdag gesê sy kan nie verder kommentaar oor die voorval lewer nie, omdat die saak nou 'n regsgeding is.
Een van die olifante wat mishandel is se slurp hang aan 'n velletjie.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'