RUBRIEK - Ek was jare laaste by 'n teepartytjie. Teepartytjies was destyds hoogmode, veral op die meer plattelandse dorpe.
Verjaarsdae is gewoonlik tydens hierdie spoggeleenthede gevier en die biduurkoppies is uitgestal.
Sulke koppies het hulle naam daaraan ontleen dat dit volgens tradisie slegs gebruik is as die dominee kom biduur hou het.
As jy, soos ek, nie gemaklik in die gietvorm van die establishment gepas het nie, moes jy jou tyd om 'n teepartytjie by te woon versigtig kies. In die jare negentig, toe ek laas 'n gereelde, dog onwillige gas by teepartytjies was, was daar maar nog min vroue op die platteland wat hulle eie geld verdien het. Pappie het meestal gesorg. Ek het deels uit behoefte, maar grotendeels uit begeerte gewerk.
Al was dit rugbreekwerk om skool te hou, kon ek net nie soos baie van die teepartytjiehouers my dae sluit gedagtig aan watter kleur strikkies ek môre en oormôre in my Maltese poedel se haartjies gaan bind nie. Laasgenoemde tradisie duur steeds voort, die brakkie van keuse is nou egter die Yorkshire-terriër.
Die beste tyd, het ek gevind, om 'n teepartytjie by te woon was laatmiddag - voor Pappie huis toe kom. Dan was Mevroutjie minder geneë om die geselskap uit te rek.
Dit was herfstyd destyds met my laaste teepartytjiebywoning. Soos ander kreatiewe geeste, is ek nog altyd gaande oor die herfs. Herfstyd, anders as die ander seisoene, bring gelyktydig 'n begin en 'n einde bymekaar.
Volgens navorsing ervaar veral musikante herfstyd as 'n geleentheid vir herontwaking - 'n tyd vir binnetoe eerder as buitentoe kyk. Gaan kyk maar. Musikante stel gewoonlik in die lente 'n nuwe album bekend. Somertyd word daar getoer en in die winter, is dit ateljeetyd om opnames te doen. Herfs, is die tyd vir komponeer.
Ek is nie musikaal nie. Inteendeel, ek kan mense van die noot af praat! Maar iets aan die herfs, wat meer as die kleure tot my spreek, is die klank. Jy kan die herfs hóór - dit klínk net anders.
Herfs kom tot my redding op pad na die teepartytjie toe. Die laning populierbome waarlangs ek stap is 'n kiertsregop erewag waaruit vallende blare soos vlokkies blaargoud grond toe sirkel. Voor my voete lê ander blare ook. Donkerrooies, soos gedroogde bloedkolle en bruines, soos die flappies handgebreide leer.
Die herfs is nog in my ore toe ek die tea party binnestap. Dié keer het ek my tyd verkeerd gekies. Al die Mevroutjies teenwoordig kyk my takserend aan. Die Pappies werk seker "laat" vandag. Effe onkant, sê ek: "Ek hoop nie ek is te laat nie. Ek het sommer gestap en na die herfs geluister. Mens hóór mos die herfs".
Mevroutjie se gekamde wenkbroutjies lig. Sy verstaan my nie. Sy vermoed instinktief die ander van haar kudde sal ook nie.
"Haai julle, sy sê 'sy hóór die herfs'. Kan julle glo?" Hulle lag beleefd vir die gasvrou se poging om my tot skande te maak.
Soos ek vandag aan dié ervaring terugdink, herinner dit my aan die woorde seisoene, redes en leeftye. Ek hóór steeds die herfs se stem. Met die ouderom aan my kant, deesdae op 'n heel nuwe manier. My seisoen van teepartytjies is verby – dankie tog! En as ek vir my jonger self iets kon sê? Daar is 'n rede waarom sekere stemme jou nie 'n leeftyd lank moet vergesel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’