GROOT BRAKRIVIER NUUS - Petro Hansen, bekende rubriekskrywer in Beeld en Die Burger, se bundel kortverhale Vervleg, is onlangs in Groot Brak bekendgestel.
Petro is in 2018 met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie vereer vir haar besonderse bydrae tot Afrikaans.
Dit was 'n aand wat die kunste op allerlei vlakke gevier het. Die kunsgalery, Art @ 39 Long, was die ideale bymekaarkomplek vir die gaste.
Tussen die skilderye, pottebakkery, beeldhouwerk, glaswerk en juwele was die bekende Petronel Baard se roerende opening met die seëngebed Pie Jesu van Andrew Lloyd Weber, besonder gepas. Petronel is 'n Afrikaanse kabaretsanger, wat die meeste van haar werk self skryf, komponeer of verwerk. Een van haar besonderse verwerkings, Antjie Krog se Kaalvoetgedig, is met luide toejuiging ontvang.
Kristie Herbst met haar melodieuse stem (wat destyds in die TV-reeks Nommer Asseblief gespeel het), het met Petro oor haar boek gesels. Petro het vertel dat sy, soos Daleen Mathee, "nie fiksie kan skyf nie". Sy gee nie voor nie en sy maak nie stories op nie. Sy gebruik waarneming, humor en handhaaf fyn balans om emosies af te wissel.
Petro het ook haar ma Gerda, wat die besonderse aand gereël en georganiseer het, bedank vir haar liefde en ondersteuning. Petro se pa, destyds vlootkaptein, was ook lief vir poësie. Sy het die boek aan hom opgedra.
"Pappa Dries, hier is die boek wat jy altyd gesê het ek moet uitgee, maar wat nou te laat is vir jou". Petro het oor Vervleg en haar ouers gesê, "wanneer ek oor die liefde dink, kom my ma en my pa se gesigte by my op".
Van die menige gaste wat hierdie bekendstelling bygewoon het, was die skrywers Maretta Bellingham (Rapport se Klitsgras-rubriek), Elenor Lombard (bekend vir haar reisrubrieke en Die son se donker kant) asook Rina Celliers.
Vervleg word deur Protea Boekhuis uitgegee.
Petronel Baard, Petro Hansen, haar ma Gerda en Kristie Herbst tydens Petro se boekbekendstelling.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'