MOSSELBAAI NUUS - Die bekende jaarlikse AJ Sportweek begin Vrydag, 15 Maart in Mosselbaai wanneer 34 deelnemende skole van regoor die land, teen mekaar gaan meeding op die rugby- en hokkievelde asook die netbalbane.
Dit is ook die agtste jaar wat die geleentheid plaasvind.
Tydens hierdie geleentheid word nie net wedstryde gespeel nie, maar van Suid-Afrika se bekendste sportlui bied afrigtingsklinieke in die onderskeie sportekodes aan.
Die rugbymanne kan daarna uitsien om deur die ervare Vlok Cilliers (voormalige Springbok), Matt Proudfoot (Springbok-voorspelerafrigter), Kobelco Steelers (voormalige Springbok en WP-voorspelerafrigter), Rynard van As (SWD Arende-afrigter), Johan Kapp (voormalige Stormers-speler) en Hendrik Truter (voormalige Tranvaal- en Vrystaat- speler) afrigting te ontvang.
Die netbalmeisies gaan waardevolle raad ontvang van Vanes-Mari Proudfoot (internasionale speler en mediapersoonlikheid), Charmaine Baard (Boland en SA Fast 5 asook Engeland), Karen Hazelhurt (WP en SA binnenshuise aksiekampioene) en Stefnie Burger (Boland- en Matie-speler).
Op die hokkieveld sal Sam Hennery (Matie-afrigter) bygestaan word deur Jade Mayne, Mandy Macllroy, Eon Swart en Stehan Cronje.
Afgesien van die afrigtingsklinieke en wedstryde, is die aanwys van Mnr en Mej Sportweek ook hoog op die agenda en die vrolike geleentheid vind Saterdagaand, 16 Maart in die skoolsaal van Hoërskool Punt plaas.
Die publiek word uitgenooi om die wedstryde wat daagliks by die Van Riebeeckstadion plaasvind, te ondersteun om ook plaaslike sportmanne en vroue- aan te moedig.
Wedstryde begin daagliks om 09:00 behalwe op Sondag, 17 Maart wanneer daar ‘n jeugdiens plaasvind en almal ‘n afdag geniet.
Die finale wedstryde sal op Woensdag, 20 Maart plaasvind.
Deelnemers kan uitsien na afrigtingsklinieke en wedstryde.
Rugbymanne kan uitsien om deur die ervare spelers afrigting te ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'