Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Gemeenskappe in afgeleë gebiede is meer weerloos as ander. daarom het die regering vanjaar tydens die herdenking van Wêreld Voedselsekerheidsdag na hierdie gemeenskappe uitgereik en is daar onder meer besoek gebring aan Brandwag.
Verskeie hooggeplaastes, onder meer die nasionale minister van landbou bosbou en visserye, Senzeni Zokwana asook provinsiale en plaaslike gemeenskapsleiers het hul dank uitgespreek teenoor die Brandwag-gemeenskap waar inwoners met hul groentetuine woeker.
"Minister, ons verbou self ons groente, ons het nie meer nodig om te wag dat iemand van die dorp hul goed hier kom verkoop nie," het Nelda George met oortuiging aan minister Zokwana gesê. "Nie net het die skenkings ons gehelp om tuine aan te lê nie, dit het gehelp om van ons entrepreneurs te maak."
Die minister het verskeie vrugtebome in die erwe van sommige inwoners geplant en dit benadruk dat hierdie bome, soos die groentetuine, mettertyd voedselsekerheid vir die gemeenskap sal kan verseker.
"As regering bedank ons ook die verskaffers wat gesorg het vir die voedselstapel wat ons vandag hier kan onthul, asook die voedselpakkies wat aan begunstigdes versprei kon word," het die minister gesê.
"Werkloosheid bring dikwels mee dat mense honger gaan slaap. Die uitreik vandag is juis om aan gemeenskappe te verduidelik en hulle te help om hulself te help om self tuine aan te lê en groente en vrugte te verbou sodat hulle iets op hul tafels vir hul kinders kan hê," aldus minister Zokwana.
Hy het gesê dit is veral vroue en kinders wat ly onder omstandighede waar honger gemeenskappe negatief beïnvloed.
Hooggeplaastes het hul verluister aan die sang van kleuters by die Abba Sorg-kleuterskool op die dorp voordat 'n optog na die sportvelde onderneem is waar 'n voedselstapel onthul is.
Die minister van landbou bosbou en visserye, Senzeni Zokwana gesels me Lilly Fillies oor haar groentetuin waar sy 'n teken angebring het: Tuin van Liefde.
"Dit is belangrik dat die nasionale regering deur middel van die onderskeie departemente fondse bewillig om armoede uit te wis en voedselsekerheid te bevorder," aldus minister Zokwana.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'