Thandora was die afgelope vier jaar alleen in die dieretuin, nadat haar maat Thandi weens aggressie verskuif moes word. Sover bekend, is dit die eerste olifant in Afrika wat uit ’n dieretuin terug in die natuur geplaas word.
Willie May, ‘n oud-inwoner van Bloemfontein, het ‘n koerantuitknipsel uit die Volksblad beskikbaar gestel van toe Thandori en haar maat, Thandi as jong olifantjies by die Bloemfontein Dieretuin aangekom het. Op die meegaande foto sit Willie se dogter, Maureen, op een van die olifantjies, wat toe ongeveer drie jaar oud was.
Maureen is destyds gekroon as die Rosefees-koningin en deel van haar ‘amptelike’ verpligtinge was om die twee olifantjies te doop. ‘n Kompetisie is glo aangebied om die twee olifante se name te bepaal en die doopplegtigheid is in die dieretuin se lapa gehou. Maureen, nou Styger, woon die afgelope 12 jaar reeds in Engeland, maar het onlangs by haar ouers, wat tans in die Mosselbaai-omgewing woon, gekuier.
“Maureen was baie opgewonde om te verneem dat Thandora nou hier in die distrik is en sy sal haar beslis by haar nuwe tuiste wil gaan besoek,” het Willie gesê.
In haar nuwe tuiste by Gondwana, sal Thandora in die natuur by twee olifantbulle en twee -koeie vrygelaat word.
Maureen woon al 12 jaar in Engeland. Hier is sy saam met haar dogter Emma tydens 'n onlangse besoek in Mosselbaai. Foto: Verskaf.