Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Twee goue apporteer gidshonde, Odi en Akari, wat sibbe is, het op 16 Maart 3-jaar oud geword wat 21 in mensejare is. Hul eienaars, Amanda Bester en Diane du Plessis, het die kans aangegryp om die twee te bederf met 'n mondigwording-partytjie op die rivieroewer by die Riviera hotel in Hartenbos.
Odi het 8 maande gelede by Amanda wat visueel gestremd is, in Hartenbos kom bly, nadat haar vorige gidshond oorlede is.
Dit verg geweldige emosionele aanpassing, geduld en tyd vir 'n gidshond wat deur iemand anders opgelei word en vir 'n nuwe eienaar om aan mekaar gewoond te raak.
Diane du Plessis het in Oktober verlede jaar hierheen verhuis met Akari wat Odi se suster uit 'n werpsel van agt hondjies is en sedertdien kuier die twee en hul eienaars dikwels saam.
Hulle stap dikwels vir lang ente op die strand en Odi het al by Akari gaan oornag. Soos dit nou maar is met reune en tewe, is Akari die meer rustiger hond, "because she is a lady" en Odi is die meer woelige een. Amanda se suster en swaer, Annie en Wade Shaw, het die geskenke vir die twee verjaardagmaats gekry en gehelp om die blinde besoekers rond te ry.
FOTOGALERY: Odi en Akari se 21ste
Reginald Smal van Roodepoort wat 'n witstok gebruik en Corrie Brits van Belville met sy 8-jaar oue gidshond, Melvin het ook die partytjie meegemaak.
Die vriende, waarvan sommige lede is van die Gidshondvereniging in Suid-Afrika, gaan binnekort die Go George busdiens, infrastruktuur en nuwe tegnologie wat by verkeersligte in Market straat in George aangebring is, uittoets om seker te maak dat dit aan die behoeftes van blinde en visueel gestremde mense voldoen. Retinus Pigmentosa is 'n oogsiekte wat deur makulêre degenerasie (doodgaan van selle op die retina) veroorsaak word.
By Amanda en die ander visueel gestremdes wat hier kuier, is hul periferale visie aangetas. Sy vertel dat haar visie amper oornag op tienjarige ouderdom verswak het van 100 persent visie na 10 persent visie. "Die selletjies gaan geleidelik dood. Retina SA doen navorsing oor oogsiektes wat met die retina te doen het, so hopelik sal daar eendag 'n deurbraak wees, om die proses om te keer of nuwe selletjies terug te plaas."
Amanda en Diane wil graag die Riviera Hotel bedank dat hulle die partytjie daar kon hou. Die hotel is gidshond-vriendelik en dus 'n gewilde kuierplek vir die groep vriende.
VIDEO - Die pragtige tweeling gidshonde, Odi en Akira se 21ste verjaardae is luisterryk gevier!
VIDEO - Voorbereidings vir Odi en Akira se "partytjie":
VIDEO - Odi en Akari, die tweeling gidshonde se 21ste verjaardagvieringe op Hartenbos:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’