Omstreeks 19:30 het die mans, almal geklee in groen oorpakke, houtgerus die winkel ingestap. Een het onmiddellik na die agterkant van die winkel geloop.
'n Ander het 'n vrou, wat by die toonbank gestaan het, met 'n vuurwapen gedreig en haar en 'n man gedwing om tussen die rakke op die grond te gaan lê.
Die teller agter die toonbank is gedwing om weg van die kasregister te staan. 'n Derde rower het die winkelbestuurder, mnr Rolin du Plessis, eenkant toe gedwing en die kluis van al die kontant gestroop.
Een van die mans het 'n klankversterker uit die muur geruk en daarmee gevlug, waarskynlik onder die indruk dat hy die geslotekringopnemer gevat het.

"Wanneer 'n wapen op jou klant gerig word, werk jy saam," het die eienaar, mnr Danie Benecke, aan die Mossel Bay Advertiser berig.
Hy sê alles het blitsvinnig gebeur en meeste van die verloop van die rooftog is met die winkel se geslotekringkameras opgeneem.
"Die rowers het hoofsaaklik met kontant uit die kluis gevlug," het hy berig.
"Die enigste twee klante wat toe in die winkel was, 'n paartjie wat koopkrag wou koop, is deur die rowers tussen die winkelrakke ingedwing en beveel om op die grond te lê," aldus Benecke.
"Ons het gesien 'n man in 'n groen oorpak stap die winkel in, die volgende man wat ingekom het, ook in groen klere, het onmiddellik my vriendin se beursie uit haar hand gegryp en ons met sy vuurwapen tussen die rakke ingedwing en beveel om op die grond te lê. Hulle het my deursoek en my beursie, selfoon en motorsleutels gesteel," sê Thinus de Beer, die ander klant in die winkel.
"Al wat deur my kop gegaan het, en wat ek vir Bettie gesê het, was om kalm te bly."


