MOSSELBAAI NUUS - Met die aanloop tot die bekendstelling van sy derde boek (Vrydag, 23 September) het die geskiedskrywer Charles Theunissen besluit om 'n bietjie meer lig te werp op die titel en inhoud van sy boek.
In sy nuutste boek, Old Sunnyside Mosselbaai, neem hy die leser weer eens op 'n historiese tog.
Hierdie keer kom die middedorp aan die beurt waar baie van sy voorsate hulle eerste lewenslig aanskou het. Dit sal ook die eerste keer wees dat iemand soos Charles uit die tradisionele bruin gemeenskap 'n sekere deel van die middedorp se geskiedenis boekstaaf. "'n Uitdaging was dit gewis," sê hy.
Volgens hom is hy hoopvol dat die inhoud van sy boek ook 'n bydraende en opbouende faktor tot die bewaring van Mosselbaai se erfenis sal wees.
Met die eerste Diasfees 34 jaar gelede (1988) was daar 'n feesblad, Mosselbaai 500 jaar.
In hierdie feesblad was feitlik niks opgeteken van die plaaslike bruin gemeenskap nie, behalwe 'n enkele artikel oor die eerste inwoners wat Bartholomeus Dias met sy aankoms hier op Mosselbaai ontdek het.
In hierdie eenmalige uitgawe word daar slegs melding gemaak van twee karakters uit die bruin gemeenskap. "Die leser kan meer oor hulle in my boek lees," vertel Charles.
In sy onlangse navorsing het hy ontdek dat sy dorp se geskiedenis nog baie gesentreer is rondom die middedorp en omgewing. Dit is juis in hierdie omgewing waar baie van sy voorsate gebore is.
Dit was ook hier waar hulle in die beginjare bygedra het om die dorp se ekonomie te laat groei, aldus Charles. Daar wag ook 'n paar verrassings vir die leser in sy nuutstse boek wat hy nie nou al met die Mossel Bay Advertiser wil deel nie.
Charles se boekbekendstelling vind op Vrydag, 23 September om 18:00 in die Lutherse Kerksaal, Uitbreiding 6 plaas. Belangstellendes kan hom kontak by 079 053 6942.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'