Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - "Dit voel asof ek nog heelpad droom! Die een oomblik staan ons nog agter die verhoog en bewe van pure senuwees ná ons al 100 keer gebid het, die volgende oomblik is ons op die verhoog en die mense freak uit oor ons soos ons dit nog nooit beleef het nie!"
Só vertel Dané Prins, die gr 11-leerder van Curro op Mosselbaai van haar ervaring as die kletsrymer Onblusbaar tydens vanjaar se KKNK op Oudtshoorn.
Twee Mosselbaaiers het die meeste gemaak van die geleentheid om by die KKNK op te tree. Benewens Dané, het Mosselbaai se alombekende "singende Superintendent van Verkeer", Antoinette Snyders, die kans aangegryp om by herhaling op die RSG-verhoog op te tree.
Die geleentheid het hom voorgedoen nadat Alicia Jansen van Vuuren van Maverix Music Garden Route na afloop van die Underdog-kompetisie die twee Mosselbaaiers se musiek vir keuring aan die KKNK voorgelê het.
Antoinette sê sy was uit die veld geslaan toe sy hoor dat hul optredes by die kunstefees bevestig is.
Kyk 'n video hieronder.
Dit was nóg meer spesiaal toe die twee talentvolle kunstenaars boonop deur kykNET tydens die KKNK gevra is om 'n verdere optrede ook op die kykNET-verhoog te doen. Die beplande twee optredes, op 24 Maart en 27 Maart, het dus tot drie optredes gevorder en telkens was die kunstenaars oorbluf deur die gehoor se positiewe reaksie. Martelize Brink het boonop tydens haar Oggend op RSG-program 'n onderhoud met Dané gevoer. D
ané sê sy was veral verras toe die gewilde komediant, Shimmy Isaacs, haar genader het vir 'n voorvertoning by van Isaacs se optredes. "Dis was 'n verrassing toe sy saam met my 'n foto wou neem," vertel Dané entoesiasties. Die twee Mosselbaaiers het boonop kans gekry om van die land se voorste kunstenaars persoonlik te ontmoet.
Beide kunstenaars het al die verhoog by die gewilde Diasfees gedeel, maar beskryf die KKNK-vertonings as 'n hoogtepunt in hul loopbane.
Boonop was daar vir Dané Prins en haar ma, Carol Prins-Chinn ook kans om met ander kunstenaars - soos Brendan Peyper - tydens die fees skouers te skuur. Sy het selfs een van haar nommers spesiaal vir hom gedoen.
Die Curro Mosselbaai se Dané Prins het haar merk as die kletsrymkunstenaar Onblusbaar tydens die pas afgelope KKNK-fees op Oudtshoorn gemaak.Foto: Hannes Visser
Dané Prins in gesprek met Martelize Brink tydens haar oggendprogram op RSG.Foto: RSG.co.za
Luister hier na die RSG onderhoud wat Martelize Brink met Onblusbaar, oftewel Dané Prins gevoer het
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'